Nuus 16:00
BULLETIN 11 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ratings Afrika wys op finansiële probleme by Suid-Afrikaanse munisipaliteite weens swak bestuur
# Hoër as verwagte Amerikaanse inflasie kan ‘n verlaging van die rentekoers kniehalter
# En, staatsamptenare vra erkenning ter herdenking van 30 jaar van demokrasie
# Ratings Afrika se onlangse verslag werp lig op Suid-Afrikaanse munisipaliteite se finansiële stryd en skryf dit toe aan swak bestuur. Die verslag onderstreep die voortslepende kwessies oor finansiële volhoubaarheid, wat weer lei tot onvoldoende dienslewering vir ‘n aansienlike deel van die bevolking. Die organisasie se ontleder, Leon Claassen is bekommerd oor die moontlikheid dat sekere munisipaliteite wanfunksioneel kan word as die kwessies nie doeltreffend aandag kry nie:
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, het onthul dit neem beamptes in die Noord-Kaap gemiddeld meer as ‘n uur om te reageer op geweldsmisdade. Polisiekantore in Gauteng gekoppel aan 10111-bevelsentrums neem gemiddeld elf minute en 56 sekondes om te reageer, terwyl tye in ander provinsies wissel. Die DA se nasionale woordvoerder oor Polisie, Okkie Terblanche, kritiseer dié inligting en skryf dit toe aan hoë misdaadvlakke en ‘n gebrek aan personeel in die diens:
# Die meeste markte het vandag teruggesak nadat Amerika se inflasiekoers die hoop op ‘n rentekoersverlaging in Junie verydel het. Die hoër as verwagte inflasie het tot ‘n waarskuwing gelei dat ‘n koersverhoging selfs kan volg. Die dollar het sy hoogste prys in 34 jaar teen die jen behaal en bespiegelinge laat ontstaan dat Japanse owerhede sal ingryp om sy beleërde eenheid te ondersteun. Die Amerikaanse inflasie van 3,5-persent op ‘n jaargrondslag was vir die derde agtereenvolgende periode hoër as verwag, met waarnemers wat waarsku die styging kan op ‘n kommerwekkende neiging dui.
# Rugby: Springbokaanhangers in die Suid-Kaap kan Sondag twee van hulle helde ontmoet wanneer die Wêreldbekertoer George aandoen. Manie Libbok, wat in die stad matriek geskryf het, en Marco van Staden sal met die Webb Ellis-trofee spog by die Tuinroete-winkelsentrum en die SA-bekerwedstryd tussen SWD Arende en Boland Kavaliers op Outenikwapark. SA Rugby sê die meeste Bokke is besig, maar hulle wil hulle belofte gestand doen om die beker na al die dele van die land te neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-668-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-341-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vereniging van Staatsamptenare sê die regering moet die Staatsdiens versterk terwyl Suid-Afrika dié maand 30 jaar van demokrasie vier. Volgens die vereniging duur uitdagings soos armoede, ongelykheid, werkloosheid, korrupsie en misdaad voort, ondanks vordering met onderwys, sport, kuns, kultuur en die ekonomie. Claude Naiker van die vereniging sê die regering het vordering gemaak in sy regs- en werkplek-sektore met ‘n funksionele regstelsel en progressiewe arbeidswette, maar nog pogings is nodig om korrupsie te bestry en maatskaplike en ekonomiese ongelykhede uit die weg te ruim.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….