Nuus 15:00
BULLETIN 28 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suliman Carrim word borgtog van 100-duisend-rand toegestaan met streng voorwaardes
# Meer as 100 honde is siek weens besoedelde water in die DBV in Centurion
# En rugby: Ses nuwelinge is ingesluit in die Springbok-groep vir die Europese toer
# Die Pretoriase Landdroshof het borgtog van 100-duisend-rand toegestaan aan die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, wat beskuldig word van minagting omdat hy nie voor die Madlanga-kommissie verskyn het nie. Hy is onlangs aangekeer toe hy na Dubai wou vlieg. Landdros Marc Curlewis sê die staat het versuim om te bewys Carrim sal sy verhoor ontduik of ‘n gevaar vir die publiek inhou, maar het streng borgtogvoorwaardes opgelê. Hy het die saak tot 8 Desember uitgestel:
# Meer as 100 honde in die DBV in Centurion het siek geword na hulle besoedelde water gedrink het. Die honde het simptome van braking en diarree getoon. Dit volg terwyl die metro tans worstel teen verskeie waterverwante uitdagings, insluitend die voortdurende besoedelingskrisis in Bronkhorstspruit en kommer oor watergehalte in dele van Hammanskraal. Die voorsitter van die Tshwane-DBV, Jeanine Niemann-Greatorex, sê aannemings en openbare besoeke is voorlopig opgeskort terwyl die water getoets word.
Nog gesondheidsnuus:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het erkenning gegee aan openbare kommer oor die lugversorging-stelsel en verkoeler-aanleg van die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Volgens die DA in die provinsie het probleme met die verhitting-, ventilasie-, lugversorging- en verkoelerstelsels temperature in teaters tot bo 20 grade Celsius laat styg, wat lei tot die uitstel van ingewikkelde en lang operasies. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê noodoperasies en sekere prosedures gaan wel voort:
Nuus uit die buiteland:
# Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, vra ‘n nuwe vryhandelsooreenkoms tussen die Europese Unie met sy 27 lidlande en die Trans-Stille Oseaan-vennootskap, wat 12 lande op vyf vastelande insluit. Die vennootskap sluit onder meer Australië, Kanada, Japan, Mexiko en Britanje in, maar Amerika en China is nie deel daarvan nie. Merz, wat ook met Singapoer se eerste minister, Lawrence Wong, vergader het, sê Europese en Asiatiese nasies moet self hul plek vind in ‘n veranderende wêreldorde. Wong sê belegging in Europa sal voortgaan.
# Rugby: Ses nuwelinge kan volgende maand hul buigings vir Suid-Afrika maak in die Nasieskampioenskaps-wedstyde in Europa. Hulle is Yaqeen Ahmed, Sebastian de Klerk, Luan Giliomee, Markus Muller, Riley Norton en Emmanuel Tshituka. Springbok-afrigter Rassie Erasmus het 37 spelers aangewys vir die toetse teen Italië, Frankryk en Ierland. Hy is verheug om die belowende jong spelers te verwelkom en sê hul vertoning die afgelope twee seisoene het ‘n groot rol gespeel. Die ervare Bokke Cheslin Kolbe, Eben Etzebeth, André Esterhuizen en Handré Pollard is weens beserings nie beskikbaar nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-239-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-45-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….