Nuus 16:00
BULLETIN 6 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IDAC-ondersoeker Matthews Sesoko sê hy het Johnson gewaarsku oor Nkabinde
# Sasol verhoog sy brandstofproduksie te midde van druk op internasionale voorrade
# En krieket: Australië se T20-kaptein sluit by Sunrisers Eastern Cape aan vir die volgende SA20-seisoen
# Die hoof van ondersoeke van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Matthews Sesoko, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het die voormalige hoof, Andrea Johnson, gewaarsku oor die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se personeelhoof, Cedric Nkabinde. Sesoko sê hy was bekommerd oor wat hy Nkabinde se oneerlike gedrag noem. Hy beklemtoon ‘n geskiedenis van onbetroubare gedrag en wys daarop Nkabinde se geloofwaardigheid is in twyfel getrek tydens ondersoeke deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat:
# Sasol sê hoër internasionale brandstofpryse en verhoogde plaaslike produksie het sy rol in energiesekerheid versterk. Uitvoerende hoof Simon Baloyi sê die onderneming het produksie verhoog by sy steenkool-na-vloeistofaanlegte en raffinaderye, wat help om voorsieningsonderbrekings weens spanning in die Midde-Ooste te verlig. Die handelsverklaring voor die bekendmaking van sy jaarstate dui aan hy verwag ‘n jaarverdienste van tot 62-miljard-rand teenoor 52-miljard-rand ‘n jaar gelede. Sasol brei ook sy projekte vir hernubare energie uit, terwyl hy werk om uitstralings te verminder en sy vermoë handhaaf om kritieke brandstofvoorrade te produseer.
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement het twee 43-jarige Chinese burgers aangekeer nadat hulle vermoedelik gesteelde koperplate van sowat 16-miljoen-rand tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie in Booysens ontdek het. Woordvoerder Xolani Fihla sê beamptes van die Taktiese Reaksie-eenheid het die besending in ‘n pakkamer opgespoor nadat inligting ontvang is wat met ‘n diefstalsaak in Durban verband hou. Hy bevestig die verdagtes word aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en in die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor aangehou:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies verwelkom voortgesette verrigtinge in Amerika om die aanlyn inhoudskeppers Andrew en Tristan Tate aan Brittanje uit te lewer. Die 59 aanklagte teen die broers, wat strek van 2010 tot 2017, sluit in verkragting, aanranding, mensehandel en oortredings in verband met onsedelike beelde van ‘n kind en uiterste pornografie. ‘n Onafhanklike VN-menseregtekenner, Reem Alsalem, sê oortreders van geweld teen vroue gebruik dikwels vertragings in die regsproses, gebrekkige samewerking tussen regsgebiede, hul rykdom, mag of openbare aansien om verantwoording te ontduik. Sy vra dat die geregtigheidsproses uitgebrei word.
# Krieket: Nog ‘n groot naam het hom verbind tot volgende jaar se vyfde SA20. Die kaptein van Australië se T20-span, Mitchell Marsh, sal die eerste keer deelneem nadat hy by die driemalige kampioen, Sunrisers Eastern Cape, aangesluit het. Hy sal na verwagting ‘n aanvangs-vennootskap met die Suid-Afrikaner Quinton de Kock vorm. Durban’s Super Giants en Paarl Royals se groepe van 19 spelers elk is reeds voltallig, terwyl Sunrisers, Joburg Super Kings, M-I Cape Town en Pretoria Capitals nog spelers sal byvoeg tydens die spelersveiling op 7 Oktober.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-458-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-268-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….