Nuus 16:00
BULLETIN 22 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vervolgingsgesag gaan die Appèlhof nader oor die uitslag in die Omotoso-saak
# Die ATM sê die onderbefondsde Weermag laat Suid-Afrika kwesbaar vir toenemende bedreigings
# En fietsry: Van der Poel onttrek aan die Tour de France
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan nou die Appèlhof nader na sy aansoek vir uitklaring oor die onskuldigbevinding van die televisie-evangelis, Timothy Omotoso, van die hand gewys is. Omotoso en twee medebeskuldigdes is vrygespreek op 32 ernstige aanklagte, insluitend verkragting en mensehandel. Die Hooggeregshof in Gqeberha het beslis die staat moet eers ’n appèlaansoek indien. Die NVG se nasionale woordvoerder, Mthunzi Mhaga, het aan Newzroom Afrika gesê regter Irma Schoeman het in haar uitspraak die gemene reg verkeerd vertolk:
Die NVG gaan intussen borgtog teenstaan vir een van die vier beskuldigdes in die moord op DJ Sumbody in 2022. Die beskuldigdes, insluitend die voormalige provinsiale bestuurder van die Nasionale Loteryraad in Gauteng, Katiso KT Molefe, het vanoggend in die Alexandra Landdroshof verskyn. Die polisie het bevestig die moordwapen is gekoppel aan tien ander misdade, insluitend die moord op Armand Swart, wat verkeerd geïdentifiseer is nadat sy maatskappy die fluitjie geblaas het oor ‘n Transnet-tender. Phindi Mjonondwane van die NVG beskryf dit as ‘n groot deurbraak:
# Die African Transformation Movement sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is onderbefonds en is nie voorbereid om toenemende bedreigings teen te staan nie. Die party sê die ontplooiing na die Demokratiese Republiek die Kongo het die gevare daarvan blootgelê om swak toegeruste soldate na konflikgebiede te stuur. Hy waarsku teen groeiende bedreigings soos misdaad, terrorisme en onwettige immigrasie. Die woordvoerder van die ATM, Zama Ntshona, sê die regering moet die skuld kry vir die verwaarlosing van nasionale verdediging:
# Fietsry: Die 30-jarige Nederlander Mathieu van der Poel het hom ses dae voor die einde van die Tour de France aan die tydren onttrek weens longontsteking. 2023 se wêreldkampioen is gister hospitaal toe geneem nadat sy verkoue-simptome vererger het. Van der Poel het vanjaar se tweede skof gewen, maar was teen die einde van Sondag se 15de skof een-uur-40-minute agter die algehele voorloper, Tadej Pogacar van Slowenië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-315-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Span Suid-Afrika het geskiedenis gemaak op die afgelope Internasionale Wiskunde-olimpiade in Australië met hul beste vertoning in meer as 20 jaar. Vyf van die ses leerders wat die land verteenwoordig het, het met ‘n bronsmedalje huis toe gekom. Die sesde een spog met ʼn welverdiende eervolle vermelding. Vyf van die leerders is uit die Wes-Kaap en die sesde een, Yian Xu van Redhill High in Johannesburg, is vereer as Afrika se beste vroulike wiskundestudent vir hoërskole.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….