Nuus 15:00
BULLETIN 27 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tax Justice SA se stigter sê die regering moet die WGO se protokol oor onwettige handel bekragtig
# Die OVK word aangemoedig om stemdae oorsee oor naweke te skeduleer
# En, ‘n pa verkoop sy trekker om sy dogter te help om haar doktorsgraad te verwerf
# Die stigter van Tax Justice SA, Yusuf Abramjee, sê die regering moet die Wêreldgesondheidsorganisasie se protokol op onwettige handel bekragtig en die Inkomstediens toelaat om kameras in alle tabakfabrieke te hê. Hy sê die polisie en aanklaers moet toegerus word om die onwettige handel te ondersoek, die baasbreine te jag en hulle aan die pen te laat ry:
Navorsing deur doktor Nicole Vellios en professor Corné van Walbeek aan die Universiteit van Kaapstad het aan die lig gebring die Suid-Afrikaanse regering het sedert 2010 miljarde rand verloor weens onwettige sigaretverkope. In 2022 het die regering 17,6-miljard-rand aan aksynsbelasting en BTW-inkomste verloor. Van Walbeek sê die meerderheid van die verlore inkomste het van 2010 tot 2022 plaasgevind:
# Die DA se afdeling vir buitelanders doen ‘n beroep op die Onafhanklike Verkiesingskommissie om stemdae oorsee te skeduleer op dae wanneer mense nie werk nie, in ooreenstemming met vorige verkiesings. Weens teenstrydige inligting deur diplomatieke sendings is daar verwarring oor die stemdag-tydsberekening. Die OVK word aangeraai om te verseker dat alle toepaslike stemlokale op Saterdag 18 Mei of Vrydag 17 Mei vanaf soggens 7-uur tot saans 7-uur oop is. Die party vra ook duidelike riglyne oor ID-vereistes en toustaan-bestuur om demokratiese beginsels vir Suid-Afrikaners in die buiteland te handhaaf.
# Rugby: Die Springbok-vrouespan is vasbeslote om hulle Europese toer op ‘n hoogtepunt af te sluit en Saterdag ʼn sterk vertoning teen Amerika te lewer. Hulle het verlede naweek hulle eerste toets van die seisoen gewen toe hulle met Spanje afgereken het. Die toets in Londen sal die sesde tussen die twee lande wees. Volgens die Springbok-vroue se hulpafrigter, Franzel September, sal dit ʼn produktiewe drie weke op toer afsluit:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-93-dollar-en-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-194-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-7-sent per vat.
# En, ‘n gesin van Limpopo het ‘n trekker verkoop om hul dogter te help om haar doktorsgraad in Landbou aan die Universiteit Stellenbosch te verwerf. Mosima Mabitsela se pa, Mamothatha, ‘n bestaansboer, sê die besluit om een van sy waardevolle plaasvoertuie te verkoop om sy dogter te help om haar droom te verwesenlik, was die moeite werd. Haar navorsing fokus op klimaatslim landbouproduksie, spesifiek die bestudering van grondlose Bambara-grondbone. Sy beoog om landelike boere te bemagtig met volhoubare boerderymetodes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….