Nuus 15:00
BULLETIN 28 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie vra strafregtelike aanklagte teen Feroz Khan
# Die Kommunikasie-owerheid ken uitsaaigleuwe toe met 546 partye wat aan die plaaslike regeringsverkiesing deelneem
# En rugby: Die Wallabies skuif op tot sesde plek op die wêreldranglys na hulle oorwinning oor die Bokke
# Die Madlanga-kommissie het opdrag gegee dat strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak moet word teen die afgedankte generaal-majoor van die polisie se Misdaad-intelligensie-afdeling. Feroz Khan het versuim om gehoor te gee aan ‘n dagvaarding om vandag voor die kommissie te verskyn. Hy is die tweede getuie wat moontlik strafregtelik vervolg kan word na die sakeman Suliman Carrim van Noordwes. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het Khan se versoek om verdere uitstel van die hand gewys, maar wel toegestem tot ‘n verhoor agter geslote deure, wat volgende Dinsdag kan plaasvind.
# Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid gaan vandag politieke verkiesingsuitsaai-gleuwe toeken in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Dit word gedoen om billike toegang tot die uitsaai-lugruim te verseker. Die toewysing volg op die ontvangs van die finale kandidatelys van die Verkiesingskommissie en sal geskied ingevolge die Uitsaairegulasies vir Munisipale Verkiesings. Die politieke uitsendings is gratis en partye is self verantwoordelik vir hul eie materiaal. Altesaam 546 partye en 142-duisend-en-72 kandidate sal om tien-duisend-526 setels meeding.
Nuus uit die buiteland:
# Microsoft se mede-stigter, Bill Gates, sê dit kan moeiliker wees om lande te laat ooreenkom oor wêreldwye reëls vir kunsmatige intelligensie as wat dit tydens die Koue Oorlog was om oor kernwapens te onderhandel. Hy sê kerntegnologie word hoofsaaklik deur regerings beheer, maar kunsmatige intelligensie word deur privaat maatskappye én regerings ontwikkel. Gates sê regerings benodig veiligheidsmaatreëls en toesig oor K-I-stelsels en kan nie vertrou dat maatskappye hulself sal reguleer nie. Hy sê Amerika en China moet saamwerk ondanks hul wedywering op die gebied van K-I-tegnologie.
# Rugby: Die Wallabies het een posisie opgeskuif tot sesde op die wêreldranglys na gister se oorwinning oor die eerste-geplaaste Suid-Afrika in Perth. Australië sou Engeland ook verbygesteek het as hulle met 15 punte gewen het, maar vier geelkaarte in die laaste elf minute het hulle voorsprong van 42-17 laat krimp voor hulle 42-38 gewen het. Nieu-Seeland is steeds tweede, gevolg deur Ierland, Frankryk, Engeland, Australië, Skotland, Argentinië, Japan en Fidji. Die Wallabies, wat onoorwonne is in hulle laaste ses wedstryde, speel volgende maand twee Bledisloebeker-toetse teen die All Blacks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-988-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-150-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-76-sent per vat.
# En laastens, CapeNature vra inwoners en besoekers om nooit pelsrobbe te nader, aan hulle te raak of te voer nie, en onmiddellik op te tree indien hulle gebyt of aan speeksel blootgestel word. Woordvoerder Luke Folb sê minstens 176 mense is deur robbe gebyt sedert hondsdolheid einde verlede jaar langs die kusl bespeur is. Hy sê enigiemand wat gebyt word, moet die wond 15 minute lank was en dringende mediese hulp kry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….