Nuus 15:00
BULLETIN 4 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekonomiese gevolge word gevrees terwyl ‘n minibus-befondser worstel met ‘n skuldkrisis
# Motorsport: Max Verstappen en Red Bull wil hulle F1-oorheersing voortsit
# En, Suid-Afrikaanse vroue se vetsugsyfers sal na verwagting teen 2030 50-persent oorskry
# Die minibus-befondser, SA Taxi, worstel met ‘n reuseskuldlas ter waarde van 16,7-miljard-rand, wat kommer wek oor die breër gevolge vir die finansiële sektor. Volgens News24 waarsku ontleders oor ernstige maatskaplike en ekonomiese gevolge indien SA Taxi nie slaag nie. Die onderneming is ‘n deurslaggewende speler in die minibustaxi-sektor en is tans besig met dringende samesprekings om teen Junie 5,3-miljard-rand op-balans en 11,4-miljard-rand buite die balans-staat te herstruktureer. Verskeie batebestuurders, insluitend Futuregrowth, Vunani Fund Managers en Ninety One, het skuldinstrumente wat aan die minibustaxi-befondsingsektor gekoppel is.
Die Johannesburgse Aandelebeurs se markkapitalisering en likwiditeit sal intussen na verwagting afneem, wat beleggersvertroue en markbestendigheid sal raak. Dit gebeur terwyl meer maatskappye aan die beurs onttrek en alternatiewe beurse verkies. Die kleinerwordende groep maatskappye wat genoteer is, kan ook beleggingsmoontlikhede beperk vir plaaslike en internasionale beleggers, wat moontlik kapitaalvorming en ekonomiese ontwikkeling kan strem. Kenners sê daar is tekens die neiging sal versnel, met nog onttrekkings wat vanjaar verwag word.
# Die GOOD-party sê hy tree doelgerig op teen die lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, Peter de Villiers, ná bewerings van seksuele aanranding en teistering. De Villiers is na ‘n volledige interne ondersoek geskors, hangende ‘n formele dissiplinêre verhoor, wat na verwagting Donderdag sal begin. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron sê die party is verbind tot geslags-regte en sy grondwet, wat gelyke regte voorstaan, asook die bestryding van geslagsgeweld. Hy het onderneem om na afloop van die verhoor die bevindinge bekend te maak:
# Motorsport: Die heersende wêreldkampioen, Max Verstappen, sê hy is bly dat hy dié seisoen met ‘n oorwinning kon afskop. Die Red Bull-jaer het voortgegaan waar hy verlede seisoen opgehou het, toe hy die voorste wegspringposisie in ‘n wedren-oorwinning kon omskep in die Bahreinse Grand Prix. Sy spanmaat, Sergio Perez, het tweede geëindig, met Carlos Sainz van Ferrari derde. Verstappen, wat dié seisoen gaan probeer om sy vierde agtereenvolgende wêreldkampioenskapstitel te verower, sê hy hoop die span kan voortbou op die sterk begin:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-13-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-83-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-37-sent per vat.
# En, die Suid-Afrikaanse Dieetkunde-vereniging het voorspel meer as 50-persent van alle Suid-Afrikaanse vroue sal teen 2030 aan vetsug ly. Volgens Maria van der Merwe van die vereniging is twee uit drie vroue tans oorgewig of het vetsug. Sy sê die koers is aansienlik laer onder mans, met een uit elke vyf mans wat as oorgewig beskou word. Die vereniging sê die getalle word deur ‘n aantal faktore beïnvloed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….