Nuus 15:00
BULLETIN 14 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA vra ‘n verskerpte ondersoek na die moorde in Kemptonpark
# Die Weerdiens waarsku oor ontwrigtende reën in die Wes- en Noord-Kaap
# En rugby: Rassie hoop die toets in Baltimore sal die spel in Amerika uitbrei voor 2031 se Wêreldbeker
# BOSA vra die polisie om dringend die ondersoek te verskerp na die dood van vyf vroue wie se liggame die afgelope twee maande in en om Kemptonpark in Gauteng gevind is. BOSA se woordvoerder, Graham Charters, sê die polisie moet sy beleid op reeksmoorde toepas en al vyf sake hersien om vas te stel of daar forensiese en ondersoek-verwantskappe is. Hy sê die voorvalle moenie hanteer word as afsonderlike sake nie:
# Citizens and Activists Forum eis die afdanking van die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, en die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, ná beweerde onbehoorlike gedrag tydens inwoners-vergaderings. Woordvoerder Dennis Bloem sê Morero het glo ‘n inwoner van Soweto beledig en Majodina het na bewering op ‘n gestremde inwoner geskree en kru taal gebruik. Hy sê president Cyril Ramaphosa bestempel die optrede as onaanvaarbaar, en vra onmiddellike ingryping:
# Die GOOD-party verwelkom die appèlkomitee van die Wes-Kaapse wetgewer se besluit om bevindings teen die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, tersyde te stel. Dit hou verband met sy verklaring oor die optrede van Ian Cameron van die DA. ‘n Voertuig met drie DA-parlementslede is in Augustus verlede jaar in Philippi, Kaapstad, aangeval tydens ʼn oorsigbesoek. Herron sê Cameron het volgens berigte sy vuurwapen gebruik:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 4-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in dele van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap. ‘n Afsny-laagdrukstelsel sal na verwagting verspreide buie en donderbuie veroorsaak, met reën van tussen 25- en 80-millimeter. Die Weerdiens waarsku oor die moontlike oorstroming van paaie en nedersettings, die sluiting van bergpasse en brûe en verkeersontwrigting, en vra motoriste om versigtig te wees.
# Rugby: Die Springbokke is oorweldig deur die ondersteuning wat hulle in Amerika ontvang het waar hul in Baltimore die Rugby Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks beklink het. Meer as 68-duisend toeskouers het die M&T Bank-stadion volgepak toe Suid-Afrika Nieu-Seeland 43-28 verslaan en die reeks 3-1 beklink het. Die Bokke het vroeër ‘n hartlike ontvangs op die lughawe gekry en bewonderaars het hulle in die stad voorgekeer. Afrigter Rassie Erasmus hoop die ervaring sal die spel uitbrei in Amerika, wat die Wêreldbekertoernooi in 2031 aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-870-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-295-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….