Nuus 15:00
BULLETIN 22 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Minister van Verdediging verdedig Suid-Afrika se vredesending in die DRK
# EFF-lede word verwyder tydens die Oos-Kaapse provinsiale rede
# En, motorsport: Carlos Sainz is derde vinnigste in sy finale seisoen vir Ferrari
# Die minister van Verdediging, Thandi Modise, het beklemtoon die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek van die Kongo is vir vredespogings. Dit volg op kritiek na die onlangse dood van die soldate Simon Mkhulu Bobe en Irven Thabang Semono tydens die sending. Die SANW het hulle liggame repatrieer en gister amptelik hulle oorskot aan hulle families oorhandig. Modise maak voorspraak vir vredesamesprekings:
# ‘n Bakleiery het uitgebreek tydens die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, se provinsiale rede toe veiligheidsdienste lede van die EFF met geweld uit die wetgewer verwyder het nadat ‘n rusie ontstaan het. Die voorval het plaasgevind te midde van die premier se toespraak, waarin verskeie projekte en uitdagings in die provinsie uitgelig is. Dit sluit in werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, vra die insluiting van veeartsenydienste in die Wetsontwerp op Provinsiale Magte om welstand, openbare gesondheid en biosekerheid ‘n hupstoot te gee. Meyer se beroep volg op die ontstellende ontdekking van 19-duisend stuks vee in haglike toestande op die Al Kuwait-skip in Kaapstad se hawe, onderweg van Brasilië na Irak. Drie diere het reeds gevrek, en agt moes uitgesit word. Meyer glo die konsep-wetsontwerp is ‘n moontlike regstelling wat sal keer so iets gebeur weer in die toekoms.
# Motorsport: Die Nederlandse renjaer, Max Verstappen, het voortgegaan waar hy verlede seisoen opgehou het, met ‘n oorheersende afskop vir die Formule Een-voorseisoentoetse in Bahrein. Red Bull se driemalige wêreldkampioen was 1,14-sekondes vinniger as Lando Norris van McLaren in die tweede plek, met Carlos Sainz van Ferrari die derde vinnigste. Dit is Sainz se laaste seisoen vir die Scuderia voordat hy deur die Britse renjaer, Lewis Hamilton, vervang word. Die Spanjaard sê dit gaan ‘n emosionele afskeid wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-653-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-16-sent per vat.
# En laastens, twee wit Bengaalse tiere wat voorheen in ‘n woonbuurt in Boksburg aangehou is, het ʼn nuwe tuiste gevind by ʼn DBV-geakkrediteerde natuurlewe-reservaat in die Vrystaat. Die tiere is in 2021 die eerste keer op ʼn eiendom langs ʼn dagsorgsentrum opgemerk. Die Dierebeskermingsvereniging se nasionale raad sê die tiere se vrylating was indrukwekkend, maar ook hartverskeurend. Die diere het opgewonde na vryheid gespring terwyl hulle die eerste keer ooit gras onder hulle pote gevoel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….