Nuus 15:00
BULLETIN 1 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oos-Kaapse ANC-takke vrees uitsluiting nadat hulle die OVK se sperdatum misloop
# Die vonnisoplegging van die veroordeelde reeksmoordenaar Rosemary Ndlovu en Nomsa Mudau word uitgestel
# En sokker: SAFA kondig Pitso Mosimane amptelik aan as Bafana Bafana se nuwe hoofafrigter
# ANC-takke in die Oos-Kaap is blykbaar in rep en roer nadat hulle die Verkiesingskommissie se sperdatum vir kandidaatlyste misgeloop het. Takke in OR Tambo, Alfred Nzo en Chris Hani vrees hulle kan uitgesluit word van November se plaaslike regeringsverkiesing. Bronne sê interne geskille oor kandidaatkeuring het indiening vertraag. Van hulle het glo eers ná die sperdatum by OVK-kantore opgedaag. Die ANC se provinsiale kantoor sê hy betrek die OVK oor duidelikheid en gemeenskappe wag op ‘n finale besluit. Die OVK sê sperdatums geld sonder uitsondering vir alle partye.
# Die vonnisoplegging van die veroordeelde reeksmoordenaar Rosemary Ndlovu en haar medebeskuldigde, Nomsa Mudau, is in die Streekhof in Kemptonpark, Gauteng, tot 15 September uitgestel. Die twee is in Mei skuldig bevind aan aanhitsing tot moord omdat hulle in 2018 betrokke was by ‘n komplot om Mudau se destydse man, Justice, te vermoor. Die huurmoordenaar het egter die slagoffer gewaarsku. Ndlovu dien reeds ses lewenslange vonnisse uit, asook nog 125 jaar tronkstraf, vir moorde wat met versekeringsuitbetalings verbind word. Die saak vorm deel van ‘n wyer ondersoek na versekeringsmoorde.
# Die vakverbond Saftu sê hy verwerp die poging om Eskom se finansiële prestasie as ‘n ongekwalifiseerde sukses voor te stel. Die kragverskaffer het in die 2026-boekjaar ongeveer 30,35-miljard-rand wins gemaak en sy 14-miljard-rand-wins van die vorige boekjaar meer as verdubbel. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê Eskom se winsgewendheid is die gevolg van elektrisiteit wat toenemend onbekostigbaar gemaak word vir huishoudings en sakeondernemings wat reeds onder ernstige finansiële druk verkeer:
# Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie vra voorlopige maatreëls van tot 28,11-persent op die invoer van kleurbedekte staal uit China. Die maatreëls, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gaan toepas, sal ses maande geld. Die vervaardigers ArcelorMittal Suid-Afrika en Safal Steel het gekla Chinese staal word teen pryse onder markwaarde in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie bemark, wat plaaslike vervaardigers wesenlik benadeel. Itac vra belanghebbendes om binne 14 dae skriftelike kommentaar oor sy voorlopige bevindings in te dien.
# Sokker: SAFA het Pitso Mosimane amptelik aangekondig as Bafana Bafana se nuwe hoofafrigter. Die driemalige Kampioeneliga-wenner keer terug vir ‘n tweede permanente termyn en vervang Hugo Broos. Mosimane se onmiddellike uitdaging is die Afrikabeker-kwalifiseerders, waarin Suid-Afrika saam met Guinee, Eritrea en Kenia in Groep D geloot is. SAFA se president, Danny Jordaan, sê die nasionale span bly ‘n belangrike handelsmerk, en 2030 se Wêreldbekertoernooi is een van sy langtermyn-fokusgebiede:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-910-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-379-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….