Nuus 15:00
BULLETIN 12 Februarie 3nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink, sê hulle moet die stad se finansies bestendig kry
# City Power vra dat nog personeellede in hegtenis geneem word vir kabeldiefstal
# En, Sokker: Bafana Bafana se Ronwen Wiliams wen toekenning by Afrikabekertoernooi
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê die metro moet die stad se finansies bestendig kry deur ‘n gewaagde herstelplan te bedink en in te stel om op die kernfunksies van die munisipaliteit te fokus. Brink het die stad se huidige finansiële status en voortgesette werk uiteengesit om geldsake te red en bestendig te maak, sowel as om inkomste-invordering te verbeter. Die burgemeester sê die metro beplan om sy inkomste-invorderings-veldtog Tshwane Ya Tima te versterk:
# City Power vra dat nog personeellede in hegtenis geneem word weens die beweerde betrokkenheid by kabeldiefstal en vandalisme van infrastruktuur in Johannesburg. ‘n Drie-en-veertigjarige werknemer van die Alexandra-dienssentrum is onlangs vasgetrek weens die diefstal van nie-ysterhoudende metaal. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê dit volg minder as ‘n maand nadat nog ‘n werknemer en ‘n kontrakteur aangekeer is weens poging op staalkabels in die omgewing van Randburg te steel:
# Die Demokratiese Republiek van die Kongo se regering beoog om ‘n 20-jaar moratorium op die doodstraf te beëindig, vir soldate wat hulle skuldig maak aan hoogverraad in die konflik teen M23 Beweging-rebelle. Die regering wil hoogverraad onder soldate só beveg. Sedert 2003 word doodsvonnisse in die DRK konsekwent na lewenslange tronkstraf omgeskakel. Die DRK se minister van Justisie, Rose Mutombo Kiesse, het amptelik ‘n voorstel ingedien oor die opheffing van die moratorium, weens kommer oor hoogverraad binne die weermag. Dié stap kom te midde van aggressie vanaf Rwanda, wat bewerings ontken dat hy die M23-rebelle steun.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein en doelwagter, Ronwen Wiliams, het die Afrikabekertoernooi se Goue Handskoen-toekenning gewen. Wiliams se heldhaftige pogings het die span gehelp om die halfeindronde te haal ná ‘n onderbreking van 24-jaar toe hulle die Kaap Verdiese Eilande geklop het. Wiliams se strafskop teen die Leopards van die Demokratiese Republiek van die Kongo het ook vir Suid-Afrika ‘n derde plek verseker. Met slegs drie doele afgestaan, het Wiliams vir Stanley Nwabali van Nigerië verbygesteek om die toekenning te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-844-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-33-sent per vat.
# En laastens: Die tussentydse visekanselier en hoof van die Universiteit van Pretoria, Professor Themba Mosia, sê die universiteit lewer die meeste navorsing in Suid-Afrika, wat bydra tot die hoë gehalte-onderwys vir studente. Mosia het agt-duisend-500 eerstejaarstudente, hul ouers, voogde en gesinne by die UP se akademiese familie verwelkom. Die universiteitslewe beskik oor spanning en uitdagings, en hy het studente aangemoedig om gebruik te maak van die verskeie ondersteuningsdienste wat UP bied, soos akademiese en studie-ondersteuning, gesondheidsdienste en emosionele ondersteuning insluitend streshantering en mentorskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….