Nuus 15:00
BULLETIN 25 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat en verdediging stem in tot agt-jaar tronkstraf vir Matlala ná hy staatsgetuie word
# Die Gautengse gesamentlike bedryfs- en intelligensiestruktuur is gereed vir 30 Junie se betogings
# En krieket: Suid-Afrika en Indië is onder druk in vandag se Wêreldbeker-groepswedstryde
# Die Nasionale Vervolgingsgesag en die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se regspan het in die Handelsmisdaadhof in Pretoria ooreengekom op gevangenisstraf van agt-jaar indien hy staatsgetuie word en senior polisie-offisiere ontbloot rondom die Medicare24‑tender wat aan sy onderneming toegeken is. Matlala het ingestem om skuldig te pleit aan bedrog, korrupsie en geldwassery. Die staat het 15-jaar tronkstraf voorgestel, waarvan sewe-jaar opgeskort sal word. Landdros Adriaan Bekker het die saak tot Woensdag uitgestel nadat hy nie bereid was om dadelik tot die ooreenkoms en vonnis in te stem nie.
# Die Gautengse gesamentlike bedryfs- en intelligensiestruktuur sê hy is ten volle voorbereid vir Dinsdag se beplande betogings. Die struktuur het ‘n geïntegreerde bedryfsplan ingestel wat wetstoepassingsagentskappe, Binnelandse Sake en gemeenskaps-belanghebbendes betrek. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê beamptes sal die reg op vreedsame betogings beskerm terwyl hulle teen geweld, intimidasie en misdadige bedrywighede optree. Sy waarsku daar kan tydelike verkeersontwrigtings wees:
# Die Spaanse lugredery Air Europa het sy eerste gereelde diens na Afrika suid van die Sahara bekendgestel, met ‘n regstreekse roete tussen Madrid en Gauteng wat vanoggend op die OR Tambo-internasionale lughawe geland het. Die diens, wat gisteraand begin het, sal drie keer per week op ‘n Boeing 787 Dreamliner aangebied word. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die nuwe roete sal na verwagting toerisme, handel en sakereise tussen Suid-Afrika, Spanje en Latyns-Amerika ‘n hupstoot gee.
# Krieket: Suid-Afrika en Indië se vrouespanne is onder druk in vandag se Wêreldbeker-groepswedstryde in Engeland. Indië speel eers in Manchester teen Bangladesj, gevolg deur die Proteas en Nederland in Bristol. Indië is tans tweede in die groep na Australië en Suid-Afrika derde, en oorwinnings in die oorblywende groepswedstryde sal hul kanse versterk om die halfeindronde te haal. Die Proteas speel volgende teen Bangladesj en Indië pak Australië. Engeland het gister vir die voorlaaste ronde gekwalifiseer toe hulle die Wes-Indiese Eilande op Lord’s in Londen geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-210-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-977-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nomusa Dube-Ncube, sê dobbelary het ‘n ernstige uitwerking op studente se akademiese prestasie, finansies en geesteswelstand. Sy het tydens ‘n Dobbelary- en Studentewelstandsimposium by die Universiteit Stellenbosch gewaarsku studente wat by dobbelary betrokke is, kan klasse misloop, sukkel om te konsentreer en akademies swak presteer. Dube-Ncube sê sommige studente herlei selfs geld wat bedoel is vir noodsaaklikhede soos klasgeld en kos om dobbelary te finansier:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….