Nuus 15:00
BULLETIN 17 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geordin Hill-Lewis sê die voorgestelde kabinetskommeling is ‘n noukeurige beoordeling van die DA se prestasie in die regering
# Brandstofpryse verhoog inflasie tot 4,5-persent
# En stygende hawekoste plaas druk op Suid-Afrika se landbou-uitvoerders
# Die leier van die DA, Geordin Hill-Lewis, sê veranderings aan die party se verteenwoordiging in die regering van nasionale eenheid is ‘n noukeurige beoordeling van sy prestasie in die rol. Dit behels dat Willie Aucamp vir John Steenhuisen vervang by Landbou. Steenhuisen word adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging. David Maynier, Alexandra Abrahams, Yusuf Cassim en Jack Bloom word voorgestel vir adjunkminister-posisies. Hill-Lewis wag op president Cyril Ramaphosa se antwoord:
# Suid-Afrika se verbruikersinflasie het verlede maand tot 4,5-persent gestyg vanaf vier-persent in April, en sy hoogste vlak sedert Julie 2024 bereik. Statistiek toon die toename is hoofsaaklik aangevuur deur hoër brandstofpryse, met petrolpryse wat op ‘n jaarkoers met 24,8-persent gestyg het en dieselpryse met 53,8-persent. Voedselinflasie het tot 1,9-persent gedaal, met laer pryse vir graankosse, vrugte en groente. Ekonome sê brandstofkoste speel ‘n deurslaggewende rol in die algehele inflasiedruk.
Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerders ondervind intussen druk weens stygende koste ná hoër hawekoste verbind aan toenemende brandstofpryse. Transnet se brandstofverwante heffing het dié maand van 52- tot 78-rand per houer gestyg ná ‘n skerp toename in dieselpryse. Bedryfskenners waarsku hierdie bykomende uitgawes volg terwyl boere reeds worstel met hoër brandstof- en kunsmispryse. Verligting kan egter moontlik wees indien internasionale energiemarkte bestendig, wat moontlik tot laer hawekoste en heffings kan lei.
# RISE Mzansi is bekommerd oor die toenemende koste van rampreaksie nadat ‘n parlementêre antwoord deur Samewerkende Regering en Tradisionele Sake onthul het sowat 14,7-miljard-rand is die afgelope dekade bestee. Woordvoerder Makashule Gana sê die bedrag sluit nie provinsies en munisipaliteite se uitgawes in nie. Hy waarsku ‘n gebrek aan ‘n enkele, gesamentlike databasis ondermyn samewerking, deursigtigheid en beplanning. Gana vra geïntegreerde data oor rampbesteding, ‘n goedgekeurde verskafferstelsel en sterker aanpassingsmaatreëls:
# Gholf: Die verdedigende kampioen, JJ Spaun, probeer om sy voorbereiding te herhaal wat hom verlede jaar die Amerikaanse Ope-titel op Oakmont besorg het. Die 35-jarige Amerikaner kan hierdie week die agtste speler word om agtereenvolgende titels te wen, ‘n groep wat Brooks Koepka, Ben Hogan, Curtis Strange en Willie Anderson insluit. Spaun, wat in April sy derde PGA-toertitel op die Texas Ope verower het, werk aan ‘n verskeidenheid houe:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-680-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….