Nuus 15:00
BULLETIN 10 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verskerp sy soektog na verdagtes in ‘n massaskietery in Cleveland
# Die Vlugteling-appèllowerheid versoek asielsoekers om hangende aansoeke af te handel
# En krieket: Lord’s se kolfblad is onbevredigend in die eerste toets tussen Engeland en Nieu-Seeland
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, verwelkom Gautengse spanne se vinnige reaksie ná ‘n massaskietery in Cleveland, Johannesburg, waarin 12 mense dood is. Sy het die ontplooiing van bykomende nasionale spesialis-eenhede gelas, insluitend forensiese kundiges en taktiese reaksiespanne, om die ondersoek te ondersteun. Polisiewoordvoerder Nonkululeko Phokane sê ‘n multidissiplinêre taakspan volg leidrade op, insluitend oor ‘n wit Toyota Quantum wat met die voorval verbind word, en alle pogings word verskerp:
RISE Mzansi vra intussen die dringende versterking van misdaadintelligensie ná die bloedbad. Woordvoerder Mabine Seabe sê die aanval beklemtoon ‘n toenemende krisis van onwettige vuurwapens en georganiseerde misdaadnetwerke wat in die stad bedrywig is. Hy vra wetstoepassing om intelligensie-geleide wetstoepassing te verbeter en gewelddadige sindikate te ontwrig voor aanvalle plaasvind. Seabe waarsku voortgesette mislukkings kan gemeenskappe verder in wanorde dompel:
# Die Vlugteling-appèllowerheid het asielsoekers met hangende appèl-aansoeke buite die Durbanse vlugtelingontvangskantoor in KwaZulu-Natal gevra om dringend by die owerheid se kantore aan te meld. Dit vorm deel van ‘n program om ‘n agterstand in appèl-aansoeke op te klaar en besluite oor asielaansoeke te bespoedig. Die owerheid waarsku diegene wat nie reageer nie, se aansoeke kan op grond van bestaande dokumente beslis word, wat tot ‘n finale uitspraak oor hul asielstatus kan lei.
Nuus uit die buiteland:
# Noord-Ierland se regering het die teen-immigrasie-betogings veroordeel wat oornag in geweld omgesit het nadat ‘n Soedanese man aangekeer is na ‘n mesaanval in Belfast. Huise en voertuie is aan die brand gesteek terwyl sowat 100 gemaskerde mans deure stukkend geskop, vensters gebreek en geëis het dat buitelanders moet padgee. Die 30-jarige verdagte is van poging tot moord aangekla. Adjunk-eerste minister, Emma Little-Pengelly, sê die man hoort nie in die land nie:
# Krieket: Die kolfblad van die tuiste van krieket, Lord’s in Londen, is as onbevredigend bevind tydens die eerste toets tussen Engeland en Nieu-Seeland. Wedstryd-skeidsregter Andy Pycroft het die beslissing gevel nadat die gasheer binne vier dae met 115 lopies gewen het. Engeland se kaptein, Ben Stokes, en die gewese kapteins Nasser Hussein en Michael Vaughan het ook die kolfblad gekritiseer. Lord’s se eienaar, die Marylebone-krieketklub, het agterna verskoning gevra en die stadion het ‘n stafpunt ontvang. Die voorlaaste toets begin volgende Woensdag op die Oval in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-890-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….