Nuus 15:00
BULLETIN 8 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Groupe Canal-Ploes verloor vier-miljard-rand van sy markwaarde weens kommer oor ‘n MultiChoice-ooreenkoms
# Die Outomobiel-Assosiasie is bekommerd oor veiligheidskwessies in Chinese voertuie wat in Suid-Afrika verkoop word
# And tennis: Chwalinksa skiet 93 posisies op nadat sy die Franse Ope se eindstryd haal
# Groupe Canal-Ploes het sedert Maart sowat vier-miljard-rand van sy markwaarde verloor weens beleggers se kommer oor sy verkryging van MultiChoice vir 52-miljard-rand. Die mediareus se aandeelprys het met meer as 32-persent gedaal nadat sy finansiële uitslae vir 2025 vrygestel is, ondanks ‘n toename van 28-persent in verdienste. Ontleders sê intense mededinging van stroomplatforms en sportuitsaaiers kortwiek sy groeivooruitsigte. Canal-Ploes het onlangs op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer as deel van die voorwaardes wat die Mededingingskommissie gestel het vir goedkeuring vir sy oorname van MultiChoice.
# ActionSA vra die Spesiale Ondersoekeenheid om dringend beslag te lê op die bates van Ekurhuleni se voormalige stadsbestuurder, Imogen Mashazi, oor ernstige korrupsiebewerings. Woordvoerder Tumelo Tshabalala verwys na ‘n berig in Sunday Times en sê openbare fondse moet verhaal word. Hy vra die opskorting van betalings aan XET Solutions hangende ‘n ondersoek na ‘n betwiste tender, en sê die saak moet na die munisipale komitee oor Openbare Rekeninge verwys word:
Die Plaaslike Regeringsvereniging vra jong Suid-Afrikaners intussen om Jeugmaand as ‘n oomblik van aksie te gebruik en te registreer vir November se plaaslike regeringsverkiesing. Die voorsitter van SALGA se Jeugkommissie, Lucky Sele, sê hulle mobiliseer jongmense om aan die verkiesing deel te neem. Hy sê dit volg te midde van groeiende kommer oor ‘n toenemende kiesersdeelname-gaping en ‘n vertrouenstekort wat daartoe lei dat al minder mense aan toekomstige verkiesings sal deelneem:
# Die Outomobiel-Assosiasie is bekommerd oor veiligheidstandaarde van sekere Chinese voertuie wat plaaslik verkoop word. Uitvoerende hoof Bobby Ramagwede bevraagteken of sommige vervaardigers toegewings maak ten opsigte van strukturele materiale en veiligheidskenmerke. Navorsing toon verskeie intreevlak-Chinese modelle wat in Suid-Afrika verkoop word, het minder lugsakke as dié in Australië en Europa. Ramagwede sê dit het ‘n beduidende invloed op botsingstoetse, met van die voertuie wat nie meer as twee sterre onder die standaarde van die internasionale motorveiligheids-graderingsprogram kan behaal nie. Die AA bepleit strenger vereistes met voertuigveiligheid.
# Tennis: Maja Chwalinksa van Pole het ‘n ongelooflike 93 wêreldrangleer-posisies tot 21ste opgeskiet na sy die eindstryd van die Franse Ope gehaal het. Die 24-jarige is die eerste kwalifiseerder ooit om Roland Garros se titelstryd te bereik. Sy het in skoon stelle teen die Rus Mirra Andreeva verloor, wat van agste tot sesde posisie opskuif. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds eerste, gevolg deur Elena Rybakina van Kazakstan en nog ‘n Pool, Iga Swiatek. Die Amerikaners Jessica Pegula en Amanda Anisimova voltooi die top-vyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-549-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….