Nuus 15:00
BULLETIN 28 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement gaan minister Tolashe dagvaar oor bewerings van die oortreding van finansiële wette
# ‘n Luukse Russiese seiljag word deur die Seestraat van Hormoes toegelaat
# En sokker: Modric se deelname aan die Wêreldbeker is in die weegskaal nadat hy sy wangbeen breek
# Die voorsitter van die Parlement se komitee vir Maatskaplike Ontwikkeling, Bridget Masango, het bevestig minister Sisisi Tolashe gaan gedagvaar word om te reageer op bewerings van oortredings van finansiële wette. Berigte dui aan ‘n staatsbetaalde werker is gebruik vir privaat pligte en gedwing om haar salaris met ‘n familielid te deel. Masango sê, indien waar, sal die openbare vertroue geskend word. Sy sê die komitee sal volledige inligting aanvra van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en stadsbestuurder Kagiso Lerutla is op borgtog vrygelaat in die Landdroshof in Boksburg, Gauteng. Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie en regsverydeling oor ‘n beweerde komplot in 2019 om ‘n derde party te huur om hom as Lerutla voor te doen in ‘n verkeersoortredingsaak. Landdros Emmanuel Magampa het die saak tot 13 Mei uitgestel en gelas hulle moet hul paspoorte indien:
# Beamptes is tans op die perseel van die wapenvervaardiger Denel in Macassar, Kaapstad, nadat ‘n brand vanoggend ontstaan het. Brand- en reddingsdienste van Macassar en Khayelitsha en ‘n voorvalbestuurspan is gestuur om Denel se brandbestryders te help om die brand te blus. Rampbestuur se woordvoerder, Sonica Lategan, sê noodmediese dienste het ook reageer, maar geen beserings is aangemeld nie. Sy sê die brand is vinnig onder beheer gebring:
Nuus uit die buiteland:
# Dit het bekend geword dat ‘n superseiljag verbind met die Russiese miljardêr Alexey Mordashov hierdie naweek deur die Seestraat van Hormoes gevaar het. Die vaartuig van 142-meter ter waarde van meer as 8,27-miljard-rand, die Nord, is Vrydag weg uit Dubai, het Saterdagoggend die seestraat oorgesteek en Sondag in Muscat aangekom. Dit is een van baie min vaartuie wat deur die verbode skeepsroete in die hart van die Amerikaans-Iranse konflik beweeg. Slegs ‘n paar vaartuie, hoofsaaklik handelskepe, beweeg daagliks deur die roete terwyl Washington en Teheran ‘n versperring handhaaf.
# Sokker: Kroasië en AC Milan se kaptein, Luka Modric, se deelname aan die Wêreldbekertoernooi is in die weegskaal nadat hy Sondag sy wangbeen gebreek het tydens ‘n ligawedstryd teen Juventus. Hy het sy kop gestamp teen Juventus se middelveldspeler, Manuel Locatelli, en later ‘n suksesvolle operasie ondergaan. Kroasië se beheerliggaam sê die 40-jarige veteraan van vier Wêreldbekertoernooie sal alles moontlik doen om fiks te wees vir vanjaar se toernooi in Noord-Amerika, wat op 11 Junie begin. Kroasië speel in Groep L teen Engeland, Ghana en Panama.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-283-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-599-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….