Nuus 15:00
BULLETIN 10 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tshwane-metropolisie se adjunkhoof verduidelik kontrakte en finansiële prosesse voor die Madlanga-kommissie
# Defend Our Democracy verwelkom die geskiedkundige hervorming wat kaderontplooiing beëindig
# En motorsport: Piastri verwelkom die F1-onderbreking as ‘n kans om Mercedes in te haal
# Die adjunkhoof van die Tshwane-Metropolisiedepartement, Umashi Dlamini, sê finansies- en projekbestuursafdelings speel ‘n sleutelrol in die bestuur van kontrakte en diensvlakooreenkomste. Hy het voor die Madlanga-kommissie prosesse verduidelik, insluitend verkrygings-beplanning, wetlike nakoming en die monitering van begrotings en betalings, met fakture wat binne 30-dae verwerk word. Dlamini beklemtoon verantwoordbaarheid deur kwartaallikse verslagdoening, besteding en diensleweringsteikens wat behoorlik nagespoor en in ooreenstemming gebring word met munisipale regulasies:
# Defend Our Democracy verwelkom die bekragtiging van die Wysigingswet op Openbare Administrasiebestuur en die Wysigingswet op die Staatsdiens. Dit maak voorsiening dat administratiewe magte versterk word, verbeter aanspreeklikheid en bevorder doeltreffendheid in die Staatsdiens. Woordvoerder Andries Sibanyoni sê die gesag om senior amptenare aan te stel en bedryfsbesluite te neem in staatsdepartemente, sal die eerste keer sedert 1994 by departementshoofde berus en nie by politieke ampsdraers nie:
# Energiekenners sê Suid-Afrika het ‘n gesamentlike dryfkrag nodig om gasinvoer-infrastruktuur en gas-tot-krag-vermoë te ontwikkel. Daar is groeiende kommer oor voorsienings-onderbrekings namate Mosambiek se gasbronne opraak en steenkoolkragstasies uitfaseer word. Kenners het op die Creamer Media-webinaar gewaarsku Eskom-programme kan vertragings verwag weens regulatoriese struikelblokke. Eskom se uitvoerende hoof vir Strategiese Lewering, Alfred Seema, beskou gas as die vinnigste en doeltreffendste oplossing vir rugsteun- en laai-opvolgvermoë. Ontleders waarsku sonder dringende besluite en beleggings is die land in gevaar van ‘n groot energietekort en stygende koste.
# ‘n Verslag deur Vodacom waarsku Afrika is steeds hoogs kwesbaar vir klimaatsverandering, met ontkoling wat vertraag word weens swak kraginfrastruktuur en onbetroubare kragvoorsiening. Die studie beklemtoon ‘n reuse-afhanklikheid van dieselkragopwekkers in sleutelsektore. Die studie sê vordering na netto-nul-uitstralings vereis energiehervormings, belegging in die privaat sektor en hernubare oplossings. Die verslag voeg by gesamentlike optrede is noodsaaklik om betroubare, bekostigbare krag uit te brei terwyl ekonomiese groei, digitale insluiting en langtermynvolhoubaarheid ondersteun word.
# Motorsport: McLaren se Australiese renjaer, Oscar Piastri, beskou die onverwagte onderbreking in die Formule Een-seisoen as ‘n kans om Mercedes se voorsprong te verklein. Sy Britse spanmaat, Lando Norris, het verlede jaar die wêreldkampioenskap gewen met Piastri derde, maar Mercedes oorheers tot dusver vanjaar en het die eerste drie wedrenne gewen. Die Midde-Oosterse konflik het gelei tot die kansellasie van die Grand Prix in Bahrein en Saoedi-Arabië en die seisoen sal eers vroeg volgende maand in Miami hervat. Piastri sê dit gee McLaren meer tyd om voor te berei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-167-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-755-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….