Nuus 15:00
BULLETIN 27 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die Vrystaat is in ‘n goeie posisie om die land se ekonomiese groei te dryf
# Die ANC bereken ‘n verlies van 15-miljoen-rand nadat ‘n konferensie gestaak is
# En atletiek: Die heersende kampioen Glenrose Xaba is die gunsteling om die SPAR Vroue Uitdaagwedren te wen
# President Cyril Ramaphosa sê die Vrystaat is goed geposisioneer om Suid-Afrika se ekonomiese groei te lei, danksy die provinsie se sterk landboubasis, mynbousektor en hernubare energiepotensiaal. Ramaphosa het tydens ‘n provinsiale toesigbesoek die Vrystaat rol as ‘n logistieke spilpunt beklemtoon en ‘n beroep gedoen op beter benutting van bestaande sterk punte. Hy het ook vordering in openbare programme geprys en samewerking aangemoedig om die provinsie se volle potensiaal te ontsluit en dienslewering te verbeter:
# Die ANC worstel met toenemende finansiële verliese van ongeveer 15-miljoen-rand, nadat die Hooggeregshof in Oos-Londen sy Oos-Kaapse provinsiale konferensie gestop het. Volgens die party is die geld reeds bestee aan voorbereidings vir meer as een-duisend afgevaardigdes wat vandag sou byeenkom. Die provinsiale voorsitter, Oscar Mabuyane, sê die party gaan appelleer teen die uitspraak en binne wettige perke voortgaan met die voorbereidings. Mabuyane wil ‘n derde termyn dien maar word deur die provinsiale sekretaris Lulama Ngcukayitobi uitgedaag.
# Die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika het die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Groothandel-Elektrisiteitsmark van April tot die derde kwartaal van 2026, tussen Julie en September, uitgestel. Die vertraging volg na konsultasies met die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika en belanghebbendes in die bedryf, oor die behoefte aan verdere operasionele en regulatoriese gereedheid. Die uitvoerende hoof, Monde Bala, sê die vertraging verseker dit word op verantwoordelike wyse ingestel. Hy het bygevoeg die mark sal doeltreffendheid, mededinging en langtermyn-energiesekerheid verbeter sodra dit ten volle in werking is.
# Atletiek: Die heersende kampioen Glenrose Xaba is die gunsteling om Sondag die 2026 SPAR Vroue Uitdaagwedren in Kaapstad te wen. Sy het verlede jaar die eerste atleet geword om skoonskip te maak in al vyf SPAR Grand Prix-wedlope en mik nou na ‘n derde reeks-oorwinning. Meer as 18-duisend deelnemers sal die strate invaar vir die geleentheid wat uitverkoop is. Die wedloop, wat by Vleiweg in Groenpunt begin, vind oor 10 kilometer- en 5 kilometer-roetes plaas onder die tema #CelebrateHer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-423-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Damvlakke in Kaapstad het tot 49,2-persent gedaal, met daaglikse waterverbruik van 1,2-megaliter per dag, wat die teiken van 975-miljoen liter per dag oorskry. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, vra inwoners, ondernemings en nywerhede om water verantwoordelik en slegs vir noodsaaklike doeleindes te gebruik. Hy sê die stad is in ‘n vroeë waarskuwingsfase en indien die verbruik teen hierdie pas aanhou, kan damvlakke teen Mei tot 40-persent daal, en dit bemoeilik die kanse om waterbeperkings voor November te vermy.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….