Nuus 14:00
BULLETIN 27 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa waarsku plaaslike regering is die swakste skakel in Suid-Afrika se regeringstelsel
# Politieke partye vra die repatriasie van buitelandse gevangenes om oorbevolking in tronke te verlig
# En motorsport: Mercedes en McLaren gee die pas aan in die oefenrondes van die Japannese Grand Prix
# President Cyril Ramaphosa sê plaaslike regering bly die swakste skakel in Suid-Afrika se regeringstelsel, met baie munisipaliteite wat in ‘n krisis verkeer. Ramaphosa het tydens ‘n oorsigbesoek aan die Vrystaat beklemtoon dat doeltreffende en verantwoordbare leierskap die sleutel is tot die verbetering van dienslewering en die herstel van openbare vertroue. Ramaphosa het bygevoeg dat ongeveer 63-persent van die 257 munisipaliteite in nood of gevaar verkeer, met swak regering, onderbefondsing en swak inkomstestelsels die grootste uitdagings vir plaaslike regering:
# Verskeie politieke partye, insluitend die DA, die Vryheidsfront Plus en ActionSA, bepleit die deportasie van veroordeelde buitelandse burgers in ‘n poging om die land se oorbevolkte gevangenisse aan te pak. Meer as 26-duisend buitelandse burgers is in Suid-Afrikaanse tronke, wat belastingbetalers ongeveer elf-miljoen-rand per dag kos. Die land se oorbevolkingsyfer in gevangenisse is 57-persent. Die politieke partye voer aan repatriasie kan uitgawes verminder, druk op korrektiewe fasiliteite verlig en rehabilitasiepogings verbeter.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms in Gauteng en Mpumalanga. Inwoners kan middag-donderstorms, koeler temperature en gedeeltelik bewolkte oggende verwag. Die weervoorspeller Lehlohonolo Thobela sê daar is ‘n moontlikheid van oorstromings, infrastruktuurskade, kragonderbrekings en gevaarlike rytoestande. Hy versoek versigtigheid op paaie, waaksaamheid in informele nedersettings en voorbereiding vir moontlike kragonderbrekings tydens ongure weer:
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap waarsku dat militêre aanvalle naby Iran se Bushehr-kernkragaanleg ‘n groot kernongeluk kan veroorsaak, met verreikende gevolge. Aanvalle op die industriële basis van Iran se verdedigingsmag is hierdie week verskerp. Die Atoomagentskap se direkteur-generaal, Rafael Mariano Gross, het gevra vir maksimum selfbeheersing om die risiko van ‘n kernongeluk te vermy. Hy het verwys na die sewe pilare van kernveiligheid en sekuriteit en beklemtoon hoe belangrik dit is om tydens ‘n konflik daaraan te voldoen.
# Motorsport: Soos verwag, het Mercedes die pas aangegee in die eerste oefenronde van die Japannese Grand Prix. George Russell, wat die jaerskampioenskap lei, het sy spanmaat Kimi Antonelli geklop vir die vinnigste tyd, met Lando Norris van McLaren derde. Norris se spanmaat Oscar Piastri was die vinnigste in die tweede oefenronde, voor Antonelli en Russell. Norris was vierde met die Ferrari’s van Charles Leclerc en Lewis Hamilton meer as 0.7 sekondes stadiger in onderskeidelik die vyfde en sesde plekke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-636-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-425-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….