Nuus 15:00
BULLETIN 23 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie erken 12 name is verkeerd bygevoeg in die Khumalo-saak
# Meer as tien-duisend mense in suidwestelike Frankryk is oornag ontruim weens ‘n veldbrand
# En hokkie: Minister McKenzie keur drie-miljoen-rand goed om Suid-Afrikaanse spanne se Wêreldbekerkostes te dek
# Die Madlanga-kommissie se kommissaris, Sandile Khumalo, bevraagteken die regsgrondslag vir die insluiting van 12 name in die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se ondersoek na die Misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo. Hy het gesê die meeste van die name is nie in die oorspronklike Artikel 27-beëdigde verklaring van die Parlementslid Fadiel Adams nie. Die hoof van die direktoraat, Andrea Johnson, het toegegee die persone moes nie ingesluit gewees het nie:
# Die vakverbond Cosatu verwag die Suid-Afrikaanse Reserwebank gaan die terugkoopkoers vandag verhoog as gevolg van die verhoging in inflasie. Volgens Statistiek Suid-Afrika het inflasie van 4,5-persent in Mei tot vyf-persent gestyg en die hoogste vlak sedert Junie 2024 bereik weens vervoerkoste wat pryse laat styg het. Jaarlikse inflasie vir kos en nie-alkoholiese drankies staan op 1,6-persent. Matthew Parks van Cosatu sê dit plaas ondraaglike druk op werkers- en middelklasgesinne:
# ‘n Verslag deur die Internasionale Raad vir Mynbou en Metale waarsku watertekorte word ‘n reuse-struikelblok vir mynbou en internasionale energie-oordrag. Die studie het bevind 30-persent van mynbou- en metaalgeriewe word in gebiede met water-bekommernisse bedryf, terwyl 96-persent van Suid-Afrika se geriewe aan ernstige droogtegevare blootgestel is. Die verslag sê gesamentlike optrede van regerings, beleggers en die bedryf word benodig om waterbronne te bestuur en die voorraad kritieke minerale te beskerm.
# Meer as tien-duisend mense is oornag in die suidweste van Frankryk ontruim nadat ‘n veldbrand vinnig versprei het en sowat twee-duisend hektaar grond wes van Bordeaux verwoes het. Data toon veldbrande het vanjaar reeds meer grond in Europa verbrand as die jaarlikse gemiddelde van die afgelope twee dekades. Dit volg op drie opeenvolgende hittegolwe, waar temperature vinniger styg as op enige ander vasteland. Vyf-honderd brandbestryders veg tans om die brand te beheer. Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Die brand woed naby die gewilde toeristebestemming Arcachonbaai.
# Hokkie: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het drie-miljoen-rand se noodfinansiering goedgekeur vir die nasionale mans- en vroue-span wat aan volgende maand se Wêreldbeker-toernooi in België en Nederland gaan deelneem. Die vrouespeler Onthatile Zulu het in ‘n ope brief onthul dat van spelers verwag is om tot vlugte by te dra en koste te dek, insluitend verblyf, maaltye en mediese uitgawes. McKenzie sê om die land te verteenwoordig is ‘n nasionale eer en verantwoordelikheid en daarom moet dit nooit ‘n persoonlike finansiële las wees nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-578-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….