Nuus 15:00
BULLETIN 16 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanklagte word teruggetrek teen ‘n sakeman in ‘n rooftogsaak van 14,9-miljoen-rand
# Iran waarsku die Seestraat van Hormoes is ononderhandelbaar en hy sal tot die einde weerstand bied
# En rugby: Farrell sien uit na die kans om die All Blacks se rekord op Edenpark te bederf
# Die staat het alle aanklagte teruggetrek teen die sakeman Etienne van der Walt in die edelsteen-diefstalsaak van 14,9-miljoen-rand. Hy was tien dae lank in aanhouding. Sy medebeskuldigdes, die voormalige Ekurhuleni Metropolisie-beampte Kersha-Leigh Stols, en die huidige beampte Adrian Mackenzie, is borgtog van vyf-duisend-rand elk toegestaan. Van der Walt se regsverteenwoordiger, Peter Jay, sê sy kliënt gaan dalk die staat dagvaar aangesien hy finansiële en sake-verliese gely het sedert sy inhegtenisneming.
# Die gesin van die EFF in Tshwane se vermoorde sekretaresse en verkiesingskoördineerder, Monicca Dube, het onthul daar was vorige sluipmoordpogings op haar. Haar man, Hilton, glo meer mense is betrokke as die 35-jarige verdagte wat na verwagting vandag in die Landdroshof in Cullinan verskyn. Dube is verlede maand in haar huis in Wallmannsthal doodgeskiet. Haar man sê die inhegtenisneming bring hoop aan ‘n gemeenskap waar baie moorde steeds onopgelos is:
# Die Wes-Kaapse polisie bied ‘n beloning van tot 50-duisend-rand aan vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van verdagtes wat ʼn Ghanese burger vermoor het. Die 35-jarige Bashira Issaka is verlede maand by sy vraghouer-sakeonderneming doodgeskiet deur verdagtes wat ʼn beskermingsfooi by hom geëis het. Die polisiewoordvoerder, Thembakazi Mpendukana, sê die ondersoekbeampte doen alles in sy vermoë om die oortreders op te spoor:
Nuus uit die buiteland:
# Iran sê die Seestraat van Hormoes is ononderhandelbaar en waarsku hy sal infrastruktuur in die Golf-streek teiken indien die Amerikaanse president, Donald Trump, sy dreigement uitvoer en Teheran se infrastruktuur aanval. Dit volg ná ‘n vyfde agtereenvolgende nag van Amerikaanse aanvalle op Iran en die herinstelling van ‘n vlootversperring van Iranse hawens. Teheran se hoofonderhandelaar, Mohammad Baqer Qalibaf, sê die enigste manier waarop die seestraat heropen kan word, is indien Amerika voldoen aan die 14-punt ooreenkoms van verstandhouding wat die twee partye verlede maand onderteken het.
# Rugby: Ierland se afrigter, Andy Farrell, sien uit na nog ‘n kans om die All Blacks die eerste keer in 32 jaar in Auckland te probeer klop. Nieu-Seeland het sy laaste 52 wedstryde op Edenpark gewen. Hulle het die Iere in hul vorige toets daar in 2022 42-19 verslaan voor die besoekers die volgende twee wedstryde en die reeks gewen het. Farrell het al sy sleutelspelers gekies vir hul vyfde poging om die statistieke te verander nadat hulle gerus het toe hulle Japan verlede naweek 36-20 verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-131-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-23-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….