Nuus 15:00
BULLETIN 11 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Waarskuwing oor ‘n gebrek aan beleid in munisipale polisiedepartemente
# TLU SA sê plaasaanvalle en misdaad word verbind met ‘n gebrek aan politieke wil
# En rugby: ‘n Bok-hulpafrigter verwag ‘n uiters gevaarlike Italiaanse span
# Die afgetrede adjunkhoof van Ekurhuleni se metropolisie, Revo Spies, is ernstig bekommerd oor die gebrek aan ‘n beleid oor misdaadklarings binne munisipale polisiedepartemente. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê daar is nie ‘n stelsel om amptenare op te spoor wat misdaadrekords kry terwyl hulle in diens is nie. Spies waarsku swak data-integrasie tussen munisipale en nasionale polisiestelsels laat ongeskikte amptenare toe om steeds vir die departemente te werk, selfs al word hulle skuldig bevind aan ernstige misdade soos moord:
# TLU SA sê geen redelike persoon kan die onlangse vuurwapenwysigings ondersteun nie. Bennie van Zyl sê die probleem lê nie by wettige vuurwapeneienaars nie, maar by die regering se mislukking om onwettige wapens, bendes en georganiseerde misdaad te beheer. Hy sê plaasaanvalle, geweldsmisdaad en wydverspreide vrees word aangevuur deur onvoldoende toesig en ‘n gebrek aan politieke wil, eerder as ‘n oormaat wettige vuurwapens:
# Die omstrede tenderpreneur Cat Matlala en sy vrou, Tsakani, se regsverteenwoordiger, Victor Nkhwashu, het aan hul saak onttrek. Die Matlalas en hul twee medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde huurmoord op sy voormalige vriendin, Tebogo Thobejane. Die Matlalas het nou nuwe regsverteenwoordiging. Die beskuldigdes het weer vlugtig in Alexandra se Landdroshof verskyn voor die saak na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas is, waar dit op 29 Januarie sal hervat.
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Ontploffing het die lewens van minstens 12 mense geëis buite ‘n hofgebou in die Pakistanse hoofstad, Islamabad. Verskeie mense is beseer. Die polisie sê die ontploffing was naby die ingang na die distrikshof, waar talle mense normaalweg saamdrom. Niemand het nog aanspreeklikheid aanvaar nie. Die ontploffing het gevolg slegs ure nadat veiligheidsmagte aangekondig het hulle het verlede nag ‘n aanval deur gewapende krygers op ‘n kadet-kollege gefnuik in Wana, naby die grens met Afganistan.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown sê hulle neem Italië nie ligtelik op nie, omdat hulle ‘n gevaarlike span is. Albei spanne is vol selfvertroue vir Saterdag se botsing in Turyn, met Suid-Afrika wat Frankryk met 32-17 geklop het, tewyl Italië ‘n oorwinning van 26-19 oor Australië behaal het. Brown sê die Italianers is ‘n groot bedreiging by die afbreekpunte, en ook baie gevaarlik wanneer hulle ruimte en geleenthede kry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-401-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….