Nuus 14:00
BULLETIN 11 November 2nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Matlala’s se regsverteenwoordiger onttrek terwyl die saak na die Hooggeregshof oorgeplaas word
# Revo Spies ontbloot Ekurhuleni Metropolisie se onreëlmatige keuringsprosesse vir senior amptenare
# En motorsport: Ferrari se voorsitter sê Hamilton en Leclerc moet minder praat en meer op bestuur fokus
# Die omstrede tenderpreneur Cat Matlala en sy vrou, Tsakani, se regsverteenwoordiger, Victor Nkhwashu, het aan hul saak onttrek. Die Matlalas en hul twee medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde huurmoord op sy voormalige vriendin, Tebogo Thobejane. Die Matlalas het nou nuwe regsverteenwoordiging. Die beskuldigdes het weer vlugtig in Alexandra se Landdroshof verskyn voor die saak na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas is, waar dit op 29 Januarie sal hervat.
# Die afgetrede adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Revo Spies, het onthul dat baie beamptes nooit behoorlik gekeur is nie. Spies het voor die Madlanga-kommissie van ondersoek getuig die Parlement se portefeuljekomitee oor Wetstoepassing het in 2020 en 2021 kommer uitgespreek oor ontbrekende misdaadklarings. Hy sê ondanks ‘n nasionale forumooreenkoms oor klaring vir personeel in uniform, is Ekurhuleni se vingerafdruk-opdrag van 2022 gestaak nadat senior amptenare, insluitend adjunkhoof Julius Mkhwanazi, dit teengestaan het:
# Sewentien Suid-Afrikaners wat in die oorloggeteisterde Donbas-streek in die ooste van Oekraïne vasgekeer is, is volgens berigte deur Jacob Zuma se MK-party na Rusland gestuur. Die regering het verlede week noodoproepe van die mans ontvang, wat gelok is om by huursoldaatmagte aan te sluit onder die voorwendsel van winsgewende werkskontrakte. Volgens News24 het die mans gedink hulle gaan as lyfwagte vir MK opgelei word. Zuma smeek in ‘n brief aan Rusland se minister van Verdediging, Andrey Belousov, dat die mans uit die oorlogsone verwyder moet word.
# Motorsport: Ferrari se voorsitter, John Elkann, is teleurgesteld oor die span se vertoning in die Sao Paulo Grand Prix in Brasilië en sê Lewis Hamilton en Charles Leclerc moet minder praat en op hul bestuur fokus. Albei jaers was Sondag in botsings en kon nie die wedren voltooi nie. Die Scuderia is in ‘n taai stryd met Mercedes en Red Bull gewikkel vir die tweede plek in die vervaardigerskampioenskap, met nog drie wedrenne oor. Elkann sê die motor het ongetwyfeld verbeter, maar ander dinge is nie op standaard nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-180-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-140-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA in die Wes-Kaap sê die skooljaar is in die pylvak en leerders van graad R tot graad 11 begin hierdie week met eksamen. Matrieks is al byna drie weke besig met die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen en daar is nog sowat drie weke oor. Peter Johnson van die DA wens alle leerders die beste toe en sê hierdie tydperk is die eindpoging na ‘n jaar van leer, toewyding en harde werk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….