Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien ‘n PAIA-aansoek by PRASA in oor die mislukte langafstandtreindiens
# Die Wes-Kaapse regering heet leerders en onderwysers hartlik welkom
# En, krieket: Die Windies word uitgeboul op die eerste dag van die eerste toets teen Australië in Adelaide
# Die DA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika ingedien. Die party versoek ‘n verslag oor die besluit rakende die herinstelling van sy langafstandtreindiens, ondanks voortslepende kommer oor PRASA se tegniese gereedheid. Die party sê PRASA het stilweg sy langafstand passasiersdiens tussen Johannesburg en Kaapstad opgeskort. Die woordvoerder, Chris Hunsinger, sê die diens van Durban na Johannesburg is ook afgeskaal en sal nou maandeliks in plaas van weekliks in werking wees:
# Die Wes-Kaapse regering het die akademiese jaar met ‘n hartlike verwelkoming aan leerders en onderwysers afgeskop by die Laerskool Westcott in Kaapstad. Die premier, Alan Winde, en die LUR vir Onderwys, David Maynier, het die inwyding van sewe nuwe klaskamers en twee badkamergeriewe gevier, ‘n merkwaardige prestasie in slegs vier maande, wat aandag skenk aan die toenemende vraag. Winde het sy beste wense vir die akademiese jaar oorgedra en leerders, veral graad 12’s, aangemoedig om hard te werk terwyl hulle hul finale jaar op skool geniet:
# Waarskuwings oor hewige winterweer het gelei tot die kansellasie van honderde vlugte op Duitsland se besigste lughawe, Frankfurt, terwyl die land gereedmaak vir swaar sneeuval en ysige reën. Die lughawe het 570 van een-duisend-en-47 vlugte op die skedule afgestel, terwyl die lughawe in München 250 van 650 geskeduleerde vlugte gekanselleer het. AFP berig die laedrukstelsel Gertrud tref Suidwes- en Sentraal-Duitsland met verwagtinge van tot 40-sentimeter sneeu en gevaarlike ysige padtoestande. Die nasionale spoorweg-onderneming, Deutsche Bahn, waarsku oor vertragings en kansellasies van sy streeks- en langafstandnetwerk.
# Krieket: Die nuweling-bouler, Shamar Joseph, het die Wes-Indiese Eilande hoop gegee toe hy twee paaltjies laat kantel het tydens Australië se antwoord op die besoekers se eerstebeurt-telling van 188 in die openingstoets in Adelaide. Australië was met uitskeityd op 59 vir twee, met Usman Khawaja onoorwonne op 30 en Cameron Green op ses. Australië is slegs 129 lopies agter aan die einde van die eerste dag se spel, maar die sleutelkolwers, Steve Smith en Marnus Labuschagne, is terug op die pawiljoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-746-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het in Desember ‘n geskiedkundige mylpaal gevier met ‘n ongekende 317-duisend twee-rigting internasionale passasiers. Dit is ‘n rekordgetal wat die vorige hoogtepunt van 290-duisend in Januarie 2020 oortref. Die skerp styging in buitelandse passasiers beteken ‘n regstreekse inspuiting van byna 1,9-miljard-rand in die Wes-Kaapse ekonomie. Die uitvoerende hoof van Wesgro, Wrenelle Stander, gee erkenning aan die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika vir sy rol om ‘n wêreldklas lughawe te onderhou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….