Nuus 16:00
BULLETIN 13 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat ondersoek die wettigheid van ‘n Britse moordvoortvlugtige
# ‘n Prokureur ontken Bellarmine Mugabe is terug in Suid-Afrika
# En krieket: Andy Flower en Justin Langer is onder die voorste aansprakers om Engeland se nuwe toets-afrigter te word
# Die Zimbabwies-Britse burger Ndodana Tshuma se borgtogaansoek in die Johannesburgse Landdroshof is tot volgende Woensdag uitgestel om sy wettige posisie te oorweeg. Hy word in Brittanje gesoek vir verlede week se moord op sy vrou en twee kinders en is die naweek in Johannesburg aangekeer. Tshuma staan ook tereg op ‘n Suid-Afrikaanse aanklag vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê Brittanje het ‘n voorlopige uitleweringsversoek ingedien:
# Die prokureur van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, het sosiale media-bewerings verwerp dat hy onlangs in Gauteng inkopies gedoen het. Sinenhlanhla Mnguni het aan die SABC gesê die foto’s is oud en Mugabe het sedert sy deportasie nie na Suid-Afrika teruggekeer nie. Hy het in April skuldig gepleit op vuurwapen- en immigrasie-oortredings na ‘n skietvoorval by sy huis in Johannesburg. Mnguni sê die bewerings is misleidend:
# Die Kaapse Vlakte-veiligheidsforum veroordeel gisteroggend se massaskietery in Wesbank, Kaapstad, waarin ‘n 22-jarige man en ‘n 21-jarige vrou dood en ‘n baba en nog ses mense gewond is. Die polisie het begin met ‘n ondersoek. Die voorsitter, Abie Isaacs, sê die skietery beklemtoon ‘n dringende behoefte om vuurwapengeweld te bekamp en bepleit die inhegtenisneming van die skuldiges. Hy sê die Wes-Kaapse regering het die gemeenskap ook gevra om met die polisie saam te werk.
# ActionSA is bekommerd omdat die Gautengse Departement van Gesondheid in die huidige boekjaar meer as 612-miljoen-rand begroot het vir buitelandse gesondheidswerkers se salarisse, terwyl talle gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse dokters en verpleegkundiges steeds werkloos is. Woordvoerder Mongezi Ntsebenze sê 551 buitelandse burgers werk vir die departement en vra dat die aanstelling van gekwalifiseerde plaaslike gesondheidswerkers voorrang kry. Hy eis ‘n omvattende oudit van alle buitelandse aanstellings:
# Krieket: Engeland se voormalige afrigter, Andy Flower, en die gewese Australiese afrigter Justin Langer is van die voorste aanspraakmakers om Brendon McCullum as Engeland se toetshoofafrigter te vervang. Flower het Engeland tussen 2009 en 2013 tot drie As-oorwinnings gelei en is tans by die Indiese Premierliga-span Royal Challengers Bengaluru. Langer het 15 oorwinnings behaal as afrigter van Australië en die As in 2019 in Brittanje behou. Ander name wat genoem word is die voormalige Engelse kaptein, Andrew Flintoff, die gewese Protea-afrigter Mickey Arthur en Surrey se hoofafrigter, Gareth Batty.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-789-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-56-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….