Nuus 15:00
BULLETIN 6 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuienisleier Adila Hassim rig ‘n waarskuwing oor Misdaadintelligensie se dreigemente aan joernaliste
# ‘n Organisasie bepleit die beskerming van migrante
# En rugby: Ingrypende veranderings aan die Bokspan vir die kragmeting met Skotland
# Die Madlanga-kommissie is ingelig oor die gevare vir joernaliste wat beweerde korrupsie binne die polisie se Misdaadintelligensie-eenheid ondersoek. Getuienisleier Adila Hassim verwys na ‘n inbraak in die huis van Daily Maverick se ondersoekende joernalis, Marianne Thamm. Die senior Misdaadintelligensie-offisier, Feroz Khan, is volgens WhatsApp-boodskappe betrokke by bewerings dat Thamm se werk gemonitor word. Hassim beklemtoon intelligensiehulpbronne mag nooit gebruik word om joernaliste te intimideer nie:
ActionSA het intussen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, geprys, ‘n jaar sedert sy hoëprofiel-nuuskonferensie in Durban, waarin hy beweerde korrupsie in die Polisiediens blootgelê het. Die party se woordvoerder, Omogolo Taunyane, sê dit het gelei tot die stigting van die Madlanga-kommissie, wat verskeie amptenare aanspreeklik hou. Sy beklemtoon die party se waardering vir Mkhwanazi se moed, integriteit en toewyding aan skoon regering en aanspreeklike strafreg-instellings:
# Die nie-regeringsorganisasie, African Refugee and Migrants Aid, sê Suid-Afrika het misluk om vlugtelinge, asielsoekers en migrante te beskerm en dit stel Afrika-lewens in gevaar. Die organisasie se direkteur, Malipo Mbalanga, het beklemtoon onlangse betogings het sterftes, aanvalle op gemeenskappe en kinders, en wydverspreide vrees onder buitelandse burgers veroorsaak. Mbalanga voer aan migrasie is ‘n jarelange uitdaging in Afrika en vra beskerming onder internasionale reg, en sê die polisie en owerhede het nie voldoende opgetree nie. Hy verwelkom ook baie lande wat help met repatriasiepogings.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ingrypende veranderinge aangebring aan die span wat Engeland Saterdag 45-21 verneder het. Hy het slegs vyf lede van die opdrafspan behou vir komende naweek se Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Skotland op Loftus. Hulle is Jesse Kriel, Damian Willemse, Paul de Villiers, Ruan Nortjé en Pieter-Steph du Toit, wat die kapteinskap behou ná Siya Kolisi se laat onttrekking aan die wedstryd op Ellispark. Handré Pollard en Embrose Papier is die skakelpaar, en Boan Venter, Johan Grobbelaar en Wilco Louw sal die skrum anker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-751-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-157-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het ‘n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om samewerking tussen omgewings- en gesondheidsdeskundiges te versterk. Die twee instellings sal saamwerk wat navorsing, beleidsontwikkeling, gesondheids-studies, data-deling, monitering van luggehalte en openbare bewustheid betref. Die raad se president en uitvoerende hoof, Ntobeko Ntusi, sê albei organisasies se doelwit is om seker te maak navorsing lei tot beleide en optrede wat lewens red, gesondheidsongelykheid verminder en alle landsburgers se lewensgehalte verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….