Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika veroordeel die sluipmoord op die Hamas-leier Ismail Haniyeh
# Die ANC beweer die MK-party se handelsmerk kan kiesers in toekomstige verkiesings mislei
# En, die Olimpiese Spele: Die tennisspelers Novak Djokovic en Carlos Alcaraz is steeds op koers vir die gouemedalje-wedstryd
# Die Suid-Afrikaanse regering het die geteikende sluipmoord op Hamas se politieke leier, Ismail Haniyeh, veroordeel. Hy is gister in ‘n lugaanval in Teheran, Iran, dood. Suid-Afrika vra ‘n deeglike ondersoek en selfbeheersing deur alle partye om toenemende streekspanning te vermy. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het beklemtoon dat sulke buitegeregtelike moorde die internasionale reg skend en vredespogings in die Midde-Ooste belemmer. Hy het medelye uitgespreek met die Haniyeh-familie en die mense van Palestina.
# Die ANC voer aan die MK-party se voortgesette gebruik van die naam en logo van sy voormalige militêre vleuel kan sy reputasie in toekomstige verkiesings skaad. Die stryd oor MK se handelsmerk word vandag in die Hooggeregshof in Durban voortgesit. Die hof het in April beslis die ANC se betoog van verwarring onder kiesers hou nie water nie. Die party se regsverteenwoordiger, Gavin Marriott, sê die handelsmerk-oortreding sal voortgaan om die ANC te benadeel:
‘n Politieke ontleder, Levy Ndou, sê intussen die ANC moet selfondersoek doen en op die party se rol in die regering van nasionale eenheid fokus. Dit volg na hy sy algehele meerderheid in Mei se verkiesing verloor het. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee hou van Sondag tot Dinsdag ‘n legotla in Boksburg. Hy sal na verwagting beleidsprogramme uiteensit wat op sy manifes se voorkeure gegrond is. Ndou het aan die SABC benadruk die ANC moet openbare vertroue terugwen deur die instelling van doeltreffende programme:
# Die aankoms van die La Niña-weerstoestande sal na verwagting kakao-produksie in Wes-Afrika bevoordeel na byna tien jaar se hoër temperature wat die El Niño-effek veroorsaak. La Niña bring laer temperature en meer reën en kan kakoa-oeste verbeter. Dié weerpatroon wat volgens voorspelling tussen Augustus en Oktober kan voorkom, bied hoop vir beter kakoa-oeste in die Ivoorkus, Ghana, Nigerië en Kameroen. Die uitdagings bly egter steeds, insluitend toegang tot kunsmis en siektebeheer.
# Olimpiese Spele: Novak Djokovic van Serwië en die Spanjaard, Carlos Alcaraz, is steeds op koers om sake uit te spook vir tennis-goud in Parys. Albei is deur na die kwarteindronde vir mans. Die topgekeurde Djokovic speel volgende teen Stefanos Tsitsipas van Griekeland, terwyl die tweede gekeurde Alcaraz te staan kom teen die Amerikaner Tommy Paul. Casper Ruud van Noorweë, Felix Auger-Aliassime van Kanada, Alexander Zverev van Duitsland en die Italianer, Lorenzo Musetti, is die ander mans in die kwarteindronde. Die wedstryd om die goue medalje vind Sondag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-520-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-435-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….