Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Onderwysdepartement hou ‘n tugverhoor oor beweerde rassisme by die Pretoria High School for Girls
# ATM eis die terugtrekking van visumverlengings weens sekerheidskwellings
# En, die Olimpiese Spele: Suid-Afrika is 12de op die medaljetabel na die verowering van goud en twee brons
# Die Gautengse Onderwysdepartement hou vanaand en môre ‘n tugverhoor vir 12 leerders van die Pretoria High School for Girls wat van rassisme aangekla word. Die leerders is geskors omdat hulle na bewering aanstootlike boodskappe oor swart klasmaats op ‘n WhatsApp-groep versprei het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê verdere aantygings dat die skoolhoof en onderwysers niks oor hierdie berigte gedoen het nie, sal ook in oënskou geneem word na die uitkoms van die ondersoek. Hy versoek alle deelnemers om die proses te respekteer.
# Die African Transformation Movement versoek die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, om die visumverlengings wat onlangs aangekondig is, terug te trek hangende ‘n deeglike ondersoek. Dit volg na die inhegtenisneming van 95 Libiese burgers in Mpumalanga wat visums onder valse voorwendsels bekom en na bewering militêre opleiding ondergaan het. ‘n Woordvoerder van ATM, Zama Ntshona, vra strenger visumondersoeke, deurlopende monitering van immigrante en ‘n veldtog van provinsie-tot-provinsie om aanspreeklikheid te verseker:
# AfriForum het sy jaarlike stortingsterrein-ouditverslag vrygestel wat ‘n landwye krisis blootlê, aangesien net 14,3-persent van die 189 terreine wat geoudit is, voldoen aan die standaarde van afvalbestuur. Die organisasie se raadgewer van Omgewingsake, Marais de Vaal, sê daar is toenemende agteruitgang in toestande op stortingsterreine. Hy vra dringende optrede deur munisipaliteite en stel vennootskappe voor met die privaat sektor om die afvalbestuur-mislukkings teen te werk:
# Saftu versoek SANTACO en die National Taxi Alliance, as aandeelhouers van Shesha, om die Shesha-bestuurders wat betrokke is by die intimidasie, teistering en afpersing van Bolt- en Uber-bestuurders te dissiplineer en permanent uit te sluit. Saftu se woordvoerder, Tevor Shaku, sê Uber- en Bolt-bestuurders word gedwing om na die Shesha-toepassing oor te skakel, en beweer hulle word wederregtelik aangekeer en beboet:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika is tans in die gesamentlike twaalfde plek op die medaljetabel nadat Tatjana Smith goud ingepalm het en die Blitsbokke en die bergfietsjaer Alan Hatherly albei brons. Japan is verrassend in die eerste plek met ses goues uit sy 12 medaljes, gevolg deur die gasheer, Frankryk, met vyf goues uit 16, en China met vyf goues uit 12. Australië is in die vierde plek, gevolg deur Suid-Korea, Span VSA en Groot-Brittanje. Italië is in die agste plek, gevolg deur Kanada en Hongkong.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-640-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-391-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….