Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-lid Daylin Mitchell word verkies tot speaker van die Wes-Kaapse wetgewer
# Jabulani Khumalo eis sy herinsluiting op die MK-party se parlementêre lys
# En, rugby: Chasing the Sun 2 is oor die langnaweek vir alle DStv-intekenare beskikbaar
# Die DA-lid, Daylin Mitchell, is verkies tot speaker van die Wes-Kaapse wetgewer. Die waarnemende Wes-Kaapse regterpresident, Patricia Goliath, het aangekondig Mitchell het 26 stemme verwerf en die ANC-lid, Ayanda Bans, 12, met drie bedorwe stembriewe. Mitchell is die eerste keer in 2022 tot speaker verkies. Hy het tydens sy aanvaardingstoespraak sy verbintenis herbevestig om te verseker die provinsiale wetgewer is die beste parlement in Afrika:
# Die geskorste stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, het ‘n dringende aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om weer op die party se parlementêre lys geplaas te word. Die hof hoor die saak aan ‘n dag voor die eerste sitting van die Nasionale Vergadering. Dit volg nadat die Kieshof Khumalo se versoek van die hand gewys het om as partyleier heraangestel te word. Sy regsverteenwoordiger, Mfesane Ka-Siboto, sê Khumalo het probeer om oudpresident Jacob Zuma te kontak om sy uitsetting te begryp:
# Die Voedsel- en Verwante Werkersvakbond is ontsteld oor die ontploffing by die Nova Feeds-fabriek op Malmesbury waarin een van sy lede dood is en twee ander met beserings in die hospitaal beland het. Die vakbond se sekretaris-generaal, Mayoyo Mngomezulu, versoek die Departement van Arbeid om die voorval deeglik te ondersoek. Mngomezulu benadruk die belangrikheid van gesondheid en veiligheid in die werkplek om sulke tragedies te voorkom. Hy het ook berading gevra vir die werknemers wat geraak is.
# Media24 gaan in Oktober verskeie ikoniese drukpublikasies sluit, insluitend Rapport, Beeld, City Press en Daily Sun. Volgens Moneyweb is die enigste drukpublikasie wat oorbly Die Burger in Kaapstad. Die besluit volg omdat drukmedia nou slegs ses-persent van die algehele reklamebesteding uitmaak en digitaal ongeveer 40-persent. Finansiële verliese, stygende verspreidingskoste, dalende advertensie-inkomste en ‘n verskuiwing na aanlyn lees het blykbaar tot die besluit gelei.
# Rugby: DStv het aangekondig sy reeks oor die Springbokke se tweede agtereenvolgende Wêreldbeker-triomf sal oor die langnaweek vir alle intekenare beskikbaar wees. Die reeks van vyf aflewerings, Chasing the Sun Two – A Story for South Africa, word van Saterdag tot Maandag gewys op SuperSport Variety en Mzansi Wethu. Een van die uitvoerende vervaardigers, die uitvoerende hoof van SuperSport, Rendani Ramovha, sê om die storie vir ‘n groter gehoor beskikbaar te maak is een van die redes wat die reeks ‘n ware Suid-Afrikaanse verhaal maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-876-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….