Nuus 15:00
BULLETIN 3 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die AA voorspel aansienlike brandstofprys-verlagings dié maand
# Die DA vra die Oos-Kaap om ‘n ramptoestand te verklaar ná die oorstromings
# En, gholf: Ernie Els wen op die Kampioene-toer in Amerika
# Die Outomobiel Assosiasie voorspel aansienlike brandstofprys-verlagings dié maand, wat verligting sal bring na volgehoue stygings sedert Februarie. Onge-ouditeerde data dui op ‘n verlaging van sowat een-rand-ses-sent-per-liter vir 95- en 93-loodvrye petrol, ‘n rand-per-liter vir diesel, and 80-sent-per-liter vir lampolie. Die AA sê dit word aangevuur deur laer internasionale produkpryse en gesteun deur ‘n sterker rand-dollar-wisselkoers in Mei. Die AA herhaal oproepe vir ‘n hersiening van die brandstofprys-meganisme om permanent stygende koste teen te werk.
# Die DA het ‘n beroep gedoen op die nuwe ANC-geleide provinsiale regering in die Oos-Kaap om ‘n ramptoestand af te kondig ná uitgebreide oorstromings. Sewe mense is dood, duisende is ontwortel, en kritieke infrastruktuur is ernstig beskadig. Die DA se provinsiale leier, Andrew Whitfield, het die premier, Oscar Mabuyane, gevra om dadelik op te tree. Hy sê daar is ‘n dringende behoefte aan gekoördineerde reaksie en doeltreffende kommunikasie om die slagoffers te help:
# Markte staan tans ‘n DA-ANC-koalisie voor, wat ontleders glo beleggersvertroue ‘n hupstoot kan gee. Die ANC kon net 40,19-persent van die stemme in die verkiesing inpalm en die politieke ekonoom Azar Jammine beskou dit as die einde van die party se oorheersing. Met die ANC wat koalisiesamesprekings oorweeg met enige party, insluitend die DA, glo hy dit kan markte positief beïnvloed. ‘n ANC-MK-EFF-koalisie word egter as negatief beskou:
# Sommige Wes-Kaapse onderwysers in kontrakposte is bekommerd oor hul werksekerheid, nadat slegs sommige kontrakte hernu is. Die Wes-Kaapse regering sê skole is toegelaat om sekere kontrakte te verleng tot einde Desember. Twee-duisend-282 kontrakte is verleng en drie-duisend-100 kontrakposte is na permanente poste omgeskakel. Die departement sê in gevalle waar onderwysers se kontrakte nie omgeskakel of verleng is nie, is dit omdat hulle nie vir ‘n permanente pos kwalifiseer nie, of omdat die skool nie die betrokke prosesse gevolg het nie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaanse legende Ernie Els het die Principal Charity Classic in Iowa ingepalm vir die vierde PGA-Kampioene–toer-oorwinning van sy loopbaan. Hy het op die Wakonda-klub klaargemaak met ‘n sewe-onder 65 en die verdedigende kampioen, Stephen Ames, met twee houe geklop. Dit is Els se eerste oorwinning sedert Maart verlede jaar. Hy sê dit is baie spesiaal omdat hy lank daarvoor moes wag. Bernard Langer was gesamentlik derde in sy vierde toernooi sedert sy hakseningbesering. Die 66-jarige Duitse ster is die voorloper met PGA Kampioene-toer-oorwinnings met 46.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-73-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….