Nuus 15:00
BULLETIN 27 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Voormalige ANC-veiligheidshoof word verbind met ‘n beweerde Staatsveiligheids-operasie teen die EFF
# Johannesburg Water sê verligting van wateronderbrekings kan nog drie maande neem
# En rugby: Twee nuwelinge is in die All Blacks-groep vir die Nasieskampioenskap
# Die ANC se voormalige veiligheidshoof, Tito Maleka, word verbind met ‘n beweerde Staatsveiligheidsagentskaps-operasie om inligting oor die EFF in te samel. ‘n Intelligensiebron getuig in die Hooggeregshof in Pretoria in die bedrogsaak van 12-miljoen-rand teen die voormalige agentskaps-amptenare, Thulani Dlomo en Patrick Mshotola. Hy sê Maleka het hom vertel hoe om die agentskap te nader. Die getuie, slegs bekend as Mnr B, beweer hy is tussen 2015 en 2016 betaal om inligting oor die EFF in te samel.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, waarsku bou-ondernemigs teen die wanvoorstelling van hul vermoëns om ‘n hoër bedryfsgradering te verseker. Hy het in Pretoria gesê dit stel openbare projekte bloot aan ongekwalifiseerde kontrakteurs. Macpherson sê die Moriel Infrastructure Group is van die register geskrap ná ‘n ondersoek na sy finansiële en tegniese geloofwaardigheid en bewerings van geslagsgeweld teen die voormalige uitvoerende voorsitter, Lawrence Mudzinganyama. Macpherson sê die ingrypings sal groter aanspreeklikheid verseker:
# Inwoners van Johannesburg sal dalk nog drie maande lank wateronderbrekings en lae waterdruk ondervind. Die uitvoerende hoof van Johannesburg Water, Ntshavheni Mukwevho, het op ‘n inwoner-vergadering in Crown Gardens gesê korttermynmaatreëls behoort binne drie-maande ingestel te wees, soos die instel van druk-bestuurstasies en verbeterings aan reaksieplanne. Mukwevho sê volgehoue beleggings in verouderde infrastruktuur word egter benodig. Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, hou vol daar is nog nie ‘n waterkrisis nie en dit sal eers aanbreek op “Dag Zero”.
# Rugby: Die All Blacks se hoofafrigter, Dave Rennie, het ‘n sterk groep van 36 aangewys vir volgende maand se Nasieskampioenskaps-wedstryde in Europa. Codie Taylor is kaptein in die toetse teen Skotland, Wallis en Engeland. Die Highlanders se loskopstut, Saula Ma’u, en die Chiefs se losskakel, Josh Jacomb, is die enigste nuwelinge. Verskeie spelers keer terug nadat hul vanjaar toetse misgeloop het, insluitend Jordie Barrett en Richie Mo’unga. Rennie is tevrede met die groep se balans:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-756-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-11-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 114-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Vroue en meisies het verlede jaar een uit elke vier van die meer as 37-duisend burgerlikes uitgemaak wat in gewapende konflik gesterf het: dubbel soveel as in 2021. Die Verenigde Nasies se jongste verslag oor Vroue, Vrede en Veiligheid wys nege-duisend-788 gevalle van konflikverwante seksuele geweld is verlede jaar bevestig – meer as twee keer soveel as die vorige jaar, en byna vier keer soveel as in 2022. Intussen leef ongeveer 170-miljoen vroue en meisies in gebiede wat deur konflik geraak word, terwyl hulle terselfdertyd in uiterste armoede verkeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….