Nuus 15:00
BULLETIN 26 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# De Kock beskuldig Ackermann dat hy hom mislei het oor apartheid-ondersoeke
# Die MK-party se adjunkpresident vra ‘n groter rol vir jongmense in die ekonomie
# En rugby: Die nuwe sewes-wêreldreeks skop in Dubai af
# Die voormalige apartheids-polisie-offisier Eugene de Kock beskuldig advokaat Anton Ackermann daarvan dat hy hom mislei het oor die gebruik van sy getuienis om senior apartheidsamptenare te vervolg. De Kock het voor die Waarheids- en Versoeningskommissie-ondersoek getuig Ackermann het hom ná sy vonnisoplegging in 1996 beloof daar sal opgetree word teen senior betrokkenes. Hy beweer die Nasionale Vervolgingsgesag het hom nooit ondervra oor generaals en politici wat na bewering verantwoordelik was vir operasies teen anti-apartheidsaktiviste nie:
# Die moordsaak teen die beweerde sleutelfiguur in die misdaadwêreld, Katiso Molefe, en sy mede-beskuldigdes, Michael Pule Tau, Tiego Floyd Mabusela en Musa Kekana, is uitgestel tot 19 Julie 2027. Die hof het gelas uitstel word benodig sodat ‘n afsonderlike saak waarin Kekana en Mabusela saam met Vusimusi “Cat” Matlala teregstaan, eers afgehandel word, want die twee sake kan nie gelyktydig voortgaan nie. Molefe en sy mede-beskuldigdes staan tereg op 35 aanklagte, insluitend die opspraakwekkende kontrakmoorde op die musikante DJ Sumbody en DJ Vintos en die ingenieur Armand Swart in 2022.
# Die MK-party se adjunkpresident, Duduzane Zuma, sê die regering kan nie alleen die nodige werksgeleenthede skep nie. Hy het jongmense op ‘n verkiesingsbyeenkoms in Umlazi, Durban, aangemoedig om entrepreneurskap te oorweeg en sakegeleenthede te benut. Zuma sê beleggings is noodsaaklik vir volhoubare werkskepping en vra meer jong leiers in die politiek, sakewêreld en tegnologiesektor. Hy sê die party het ‘n plan om meer geleenthede vir jongmense te skep indien hy verkies word:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het geen berigte ontvang dat sardyne weer op groot skaal uitspoel soos laat in Julie en vroeg September in die Wes-Kaap aangemeld is nie. Hy ondersoek egter ‘n klein aantal jong sardyne wat oor ‘n gebied van sowat 200 meter op ʼn strand naby Mosselbaai uitgespoel het. Die departement se woordvoerder, Zolile Nqayi, sê hulle het monsters geneem om vir die sardyn-herpesvirus te toets:
# Rugby: Die onlangse sewes-wêreldreeks begin die laaste naweek van November in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Dit word ‘n week later gevolg deur die toernooi in Kaapstad, asook toernooie in Singapoer, Perth in Australië en Vancouver in Kanada, met die reeks wat in New York ten einde loop. Die wêreldkampioenskaptoernooie vind in April in Hongkong plaas, en in Mei in Valladolid in Spanje en Bordeaux, Frankryk. Suid-Afrika het verlede seisoen albei reekse gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-223-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-15-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….