Nuus 14:00
BULLETIN 12 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Een sterfte is in Gauteng aangekondig in die A-pokke-uitbreking
# Die FW de Klerk-stigting vra burgers om sy ‘Suid-Afrika Eerste!’-versoekskrif te onderteken
# En, padwedlope: Die Comrades-organiseerders beloof die spoedige oplossing van uitstaande kwessies
# Die Departement van Gesondheid het een sterfte in Gauteng aangeteken weens die uitbreking van A-pokke. Die 37-jarige man is Maandag in die Tembisa-hospitaal oorlede. Die departement gaan sy kontakte na, spoor gevalle op en verhoog bewustheid van die virus. Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê verhoogde risiko-kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid word ingestel om verdere verspreiding te voorkom, en vroeë diagnose en behandeling te verseker:
# Die FW de Klerk-stigting vra burgers om sy ‘Suid-Afrika Eerste!’-versoekskrif te onderteken. Dit beoog die totstandkoming van ‘n regering van grondwetlike eenheid of ‘n koalisieregering wat die land se belange voorop stel. Die ANC hoop te midde van voortgesette samesprekings om ‘n nasionale eenheidsregering te vorm nadat hy sy meerderheid verloor het. Die stigting sê hy voorsien ‘n regering wat die Grondwet handhaaf, belegging aanmoedig, armoede en werkloosheid pak, en regeringsbestuur verbeter.
Ekonome spreek intussen onsekerheid uit oor Suid-Afrika se ekonomiese toekoms te midde van koalisiesamesprekings en die komende verkiesing van die volgende president. Hulle glo ‘n regering van nasionale eenheid kan ‘n ernstige uitwerking hê op ekonomiese beleid en bruto binnelandse produk-groeivooruitskattings raak. Citadel se hoof-ekonoom, Maarten Ackerman, lig uitdagings uit in sleutel-ekonomiese sektore en beklemtoon die belangrikheid van langtermynstrategieë om mark-onbestendigheid doeltreffend te hanteer.
# BetterBond sê die aantal goedgekeurde huislenings het die afgelope 12-maande meer as 11-persent gedaal, terwyl die aantal huislenings vir huise wat minder as 500-duisend-rand kos, met slegs 3,1-persent gestyg het. Hierdie dui op ‘n negatiewe koers wanneer dit aangepas word vir inflasie. Tussentydse uitvoerende hoof Bradd Bendall sê die skade wat weens hoë rentekoerse aangerig word aan die residensiële eiendomsmark, is veral duidelik in die twee laagste huisprysgroepe, naamlik onder 500-duisend-rand en tussen 500-duisend- en ‘n miljoen-rand:
# Padwedlope: Die organiseerders van die Comrades-marathon doen stappe om ‘n herhaling van sekere probleme in Sondag se wedloop te voorkom. Drawwers en toeskouers het hulle bedank vir ‘n goeie geleentheid, maar daar was probleme soos busse wat laat opgedaag het om deelnamers na die wedloop na Durban terug te neem, verkeersknope op die N3, en ‘n tekort aan medaljes vir sekere groepe. Wedloop- en bedryfsbestuurder Ann Ashworth het verskoning gevra en gesê hulle doen alles moontlik om alle kwessies vinnig op te los.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-887-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-313-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….