Nuus 14:00
BULLETIN 31 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule het glo sy visier op Matjhabeng se burgemeestersketting
# Spanje raam ongeveer 49-duisend vlugtelinge het die afgelope 24-uur sy grens vanuit Marokko oorgesteek
# En krieket: Twaalf stadions gaan wedstryde aanbied in die eendag-Wêreldbekertoernooi in Suider-Afrika
# Die gewese Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, het glo sy visier daarop gestel om die volgende burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat te word. Hy staan tans tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie rondom ‘n asbes-tender van 255-miljoen-rand. Magashule, wat nou leier van African Congress for Transformation is, beplan volgens berigte om die ANC uit te daag in November se plaaslike regeringsverkiesing. Matjhabeng ondervind voortdurende dienslewerings- en bestuursuitdagings, wat dit ‘n sleutel-verkiesingslagveld maak.
# COPE vra die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, moet bedank na bewerings van korrupsie, onbevoegdheid en magsmisbruik in die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. COPE sê die bevindings wat voor die Madlanga-kommissie aan die lig gekom het, wys op stelselmislukkings onder Kubayi se toesig. Die waarnemende nasionale voorsitter, Pakes Dikgetsi, voer aan verantwoordbaarheid strek tot by politieke leierskap en sê openbare vertroue in die teen-korrupsieliggaam is ondermyn:
# Jan Scheepers is vanaf môre die nuwe provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, nadat hy bevorder is tot luitenant-generaal. Scheepers het byna 40-jaar ondervinding in die Polisiediens. Hy was sedert die begin van verlede maand die waarnemende kommissaris ná luitenant-generaal Thembi Hadebe se aftrede. Die waarnemende nasionale kommissaris, Puleng Dimpane, sê sy aanstelling vorm deel van pogings om leierskap te versterk en misdaadbekamping te verbeter in Limpopo:
Nuus uit die buiteland:
# Spanje se Ministerie van Binnelandse Sake sê 49-duisend migrante het na raming die afgelope 24-uur die enklawe Ceuta per see en land vanuit Marokko bereik. Honderde mense, meestal jongmense op soek na werk en ‘n beter lewe, het na die gebied geswem, terwyl ander per boot gekom het. Die rede vir die skielike toestroming blyk ‘n onlangse uitspraak van die Spaanse Hooggeregshof te wees, wat gelas migrante wat op see onderskep is terwyl hulle probeer om Ceuta en Melilla te bereik, mag nie summier teruggestuur word nie.
# Krieket: Twaalf stadions in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe gaan wedstryde aanbied in volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi. Dit sluit in agt in Suid-Afrika, drie in Zimbabwe en een in die Namibiese hoofstad, Windhoek. Die plaaslike stadions is Nuweland in Kaapstad, die Wanderers in Johannesburg, Centurion in Pretoria, Kingsmead in Durban, die Mangaung-ovaal in Bloemfontein, Bolandpark in die Paarl, en St Georgepark en Buffalopark in die Oos-Kaap. Die voorlopige datums is vanaf 4 Oktober tot 21 November.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-53-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….