Nuus 13:00
BULLETIN 31 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrea Johnson word steeds strafregtelik ondersoek
# Maatskaplike Ontwikkeling waarsku Suid-Afrikaners oor mensehandel deur vals werksaanbiedinge
# En krieket: Stephen Fleming is as Engeland se nuwe toetsafrigter aangestel terwyl Joe Root as kaptein terugkeer
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, sê die gewese hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, word steeds strafregtelik ondersoek al het sy onlangs bedank te midde van haar getuienis voor die Madlanga-kommissie. Een van die bewerings is dat sy wederregtelik die inhoud van ‘n aanranding-dossier teen die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Fazel Khan, met hom gedeel het. Mothibi sê ʼn bedanking beskerm niemand teen strafregtelike aanspreekliheid nie:
# President Cyril Ramaphosa het sewe lede vir ‘n tydperk van drie-jaar aangestel op die Nasionale Raad oor Geslagsgeweld en Vrouemoord. Die statutêre liggaam moet strategiese leierskap verskaf oor die bekamping van geslagsgeweld en vrouemoord. Ramalepe Mathibe is as raadsvoorsitter aangestel. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die raad moet ook die nasionale strategie instel wat geslagsgeweld en vrouemoord op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak hanteer:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waarsku Suid-Afrikaners, veral jongmense, om waaksaam te wees omdat vals aanlyn werkaanbiedinge gebruik word vir mensehandel. ʼn Toenemende aantal jongmense is na swendel-ondernemings in Mianmar gelok nadat hulle oënskynlike wettige werkaanbiedinge in Thailand aanvaar het. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die slagoffers word oor die grens na Mianmar geneem en gedwing om finansiële misdade in die kuberruim te pleeg:
# Amnestie Internasionaal sê Indië voorsien steeds wapens aan Israel ondanks die beduidende gevaar dat dit gebruik kan word in die voortslepende volksmoord op Palestyne in Gaza. Sy ondersoekers het twee-duisend-596 verskepings van wapens, ammunisie, onderdele en toerusting ontleed wat sedert 7 Oktober 2023 van Indië na Israel gestuur is. Indiese ondernemings het minstens 390-duisend-516 kleinwapenonderdele verskaf vir militêre gebruik en 564-duisend-970 onderdele vir plofbare wapens, insluitend hommeltuigkoppe. Agnès Callamard van Amnestie Internasionaal sê Indië het versuim om wapenuitvoere na Israel in ooreenstemming met internasionale reg te beheer.
# Krieket: Die voormalige Nieu-Seelandse kaptein Stephen Fleming is aangestel as hoofafrigter van Engeland se mans-toetsspan. Die 53-jarige volg sy voormalige internasionale spanmaat Brendon McCullum op, wat vroeër die maand afgedank is, maar aanbly as afrigter van die witbal-spanne. Joe Root is weer as toetskaptein aangestel. Hy was kaptein van 2017 tot 2022 voor hy deur Ben Stokes vervang is, wat nou uitgetree het. Fleming se eerste toetse in beheer is Engeland se toer van drie wedstryde in Suid-Afrika in Desember en Januarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-638-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-51-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….