Nuus 13:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisiestatistieke toon minder moorde vir Julie tot September vanjaar
# Die Joodse Raad is bekommerd oor toenemende anti-Semitisme
# En, motorsport: McLaren se Norris glo die eerste Las Vegas GP sal geleenthede vir almal bied
# Daar was vanaf Julie tot September vanjaar 59 minder moorde, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is volgens die jongste misdaadstatistieke van die polisie. Seksuele misdrywe het met 1,5-persent afgeneem, verkragting met 0,7-persent en seksuele aanranding met 2,5-persent. Sake van poging tot moord het met 12,3-persent toegeneem en rooftogte in woongebiede het met 3,8-persent gestyg.
# Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes is bekommerd oor toenemende anti-Semitisme in die land te midde van die Israel-Hamas-konflik. Die raad het saam met die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie met die ANC vergader om die kwelpunte van die Joodse gemeenskap te bespreek. Die ANC is geskiedkundig ʼn ondersteuner van Palestina en is gekritiseer vir wat die raad beskou as ‘n ontoereikende reaksie op Hamas se aanval in Oktober waarin een-duisend-200 Israeli’s dood is. Die raad het gevra vir aandag aan die oplewing in antisemitisme en het die vooruitsigte vir vrede in die Midde-Ooste opgehaal.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se besluit om geen dranklisensies toe te staan nie, sal meer werkloosheid in die provinsie tot gevolg hê. Die premier het gesê met die staking van die uitreiking van dranklisensies wil hulle dwelms en die verkoop van onwettige goedere help beveg. Patrick Atkinson van die DA sê dié besluit sal tot gevolg hê dat entrepreneurs nie enige nuwe besighede in die sektor kan begin nie:
Speel klankgreep: ENG PatrickonLiqourLicences
# Namibië en Botswana het ‘n mylpaal-ooreenkoms aangekondig om buitelandse selfoon-heffings tussen die twee lande teen April volgende jaar uit te skakel. Die gesamentlike aankondiging is gedoen op ‘n nuuskonferensie deur Botswana se minister van Kommunikasie, Kennis en Tegnologie, Thulagano Segokgo, en Namibië se minister van Inligting en Kommunikasietegnologie, Peya Mushelenga. Die woordvoerder van Namibië se ministerie van Inligting en Kommunikasietegnologie, Shoki Kandjimi, het bevestig dit sal bilaterale bande versterk en sê regulerende instellings sal ook operateurs opdrag gee om hierdie strategiese besluit in te stel:
Speel klankgreep: ENG-KandjimiOnRoaming
# Motorsport: Lando Norris van McLaren glo die eerste Las Vegas Grand Prix-naweek bied geleenthede vir almal. Dit volg terwyl Formule Een die eerste keer op die nuwe straatbaan in koue aandtemperature afgehandel gaan word. F1-jaers sal die baan van 6,1-kilometer aandurf, wat ‘n snelgedeelte in die wêreldbekende Vegas Strip het. Norris sê die uitdagings van die baan en die temperatuur in die lae 10 tot 20-grade, moet nie onderskat word nie. Die Las Vegas Grand Prix is laas in 1982 aangebied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-429-dollar-30-sent. Die prys van goud is een-duisend-990-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….