Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se ekonomie het ingekrimp in die eerste kwartaal van 2024
# Die Raad vir Buitelandse Betrekkinge loof Suid-Afrika se demokratiese veerkragtigheid na die verkiesing
# En, rugby: Warren Gatland sê Wallis bou op na 2027 se Wêreldbekertoernooi
# Suid-Afrika se ekonomie het in die eerste kwartaal van 2024 marginaal ingekrimp met 0,1-persent. Dit volg op ‘n hersiene styging van 0,3-persent in die vierde kwartaal van 2023. Swakker vervaardiging, mynbou en boubedrywighede het baie van die afwaartse momentum aan die aanbodkant van die ekonomie aangevuur, terwyl ‘n afname waarneembaar is by alle onder-afdelings in die vraag-kant. Ses van die tien bedrywe aan die produksiekant van die ekonomie het swak vertoon in die eerste kwartaal, met vervaardiging die grootste negatiewe bydraer. Landbou was die grootste positiewe bydraer in die eerste kwartaal.
# Die Raad vir Buitelandse Betrekkinge loof die demokratiese veerkragtigheid in Suid-Afrika nadat die ANC die verkiesingsuitslae aanvaar het, ten spyte van verliese. Die raad se navorsingsgenoot, Michelle Gavin, waarsku egter dat die vorming van koalisies in die komende dae en weke deurslaggewend vir die land sal wees. Sy is ook bekommerd dat partye soos die EFF en MK Amerikaanse maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen, sal verskrik:
# Die Suid-Koreaanse president, Yoon Suk Yeol, het die militêre spanningsverligtingsooreenkoms van 2018 met Noord-Korea volledig opgeskort na ‘n bombardement van ballonne gevul met rommel. Die ooreenkoms is onderteken toe verhoudinge hartliker was, maar was nutteloos aangesien Seoel dit verlede jaar gedeeltelik opgeskort het nadat die Noorde ‘n spioenasie-satelliet gelanseer het. Volgens sekerheidsamptenare in Seoel verhinder die Noorde se uitlokkende optrede hulle om hulleself te beskerm nadat sowat ‘n duisend ballonne vol rommel verlede week oor die grens gestuur is.
# Rugby: Wallis se afrigter, Warren Gatland, sê sy span bou op na 2027 se Wêreldbekertoernooi. Hy het die oefenspan onthul vir die toetse teen Suid-Afrika en Australië. Wallis wil uit die stof opstaan na ‘n treurige Sesnasiestoernooi waartydens hulle al vyf wedstryde verloor en die eerste keer sedert 2003 heel onder aan die punteleer geëindig het. Wallis sal vir die kragmeting met die Springbokke sonder sy Engelands-baseerde spelers wees, onder andere die Sesnasies-kaptein, Dafydd Jenkins.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-820-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-78-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is tans gasheer vir die agtste Suid-Afrikaanse TB-kongres in die Internasionale Konvensiesentrum in Durban, KwaZulu-Natal. Die vierdaagse geleentheid is gemik op die vermindering van TB-besmettings en -sterftes en wil ook vordering met die Verenigde Nasies se teikens vir 2025 bepaal. Suid-Afrika is onder 30 lande met ‘n hoё TB-las wat bydra tot 87-persent van die gevalle wêreldwyd. Foster Mohale van die Gesondheidsdepartement sê die konferensie vra verenigde optrede in die stryd teen die voorkombare aansteeklike siekte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….