Nuus 14:00
BULLETIN 25 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suliman Carrim se getuienis voor die Madlanga-kommissie is tot 15 Julie uitgestel
# Israel en Libanon bespreek ‘n projek om grondgebied te oorhandig
# En rugby: Faf de Klerk gaan die Barbarians teen Wallis aanvoer
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, regter Mbuyiseli Madlanga, het die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, se getuienis uitgestel tot 15 Julie. Hy sou vandag getuig, maar sy regspan het die kommissie ingelig sy gesondheid is steeds ‘n bron van kommer. Carrim het voorheen geskeduleerde verskynings misgeloop nadat hy medies ongeskik verklaar is om te getuig. Die getuienisleier, Matthew Chaskalson, beklemtoon die kommissie sal bykomende inligting van Carrim se mediese span inwin:
# Die Impact Forum sê hy het ‘n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien teen die Departement van Binnelandse Sake ná ‘n vergadering van belanghebbendes oor die vrystellingspermitprogramme vir burgers van Zimbabwe en Lesotho. Die organisasie beweer die regte en vryheid van uitdrukking van sy verteenwoordiger is tydens verlede week se vergadering geskend. Die president van die forum, Rollence Mabula, sê hy sal voortgaan om alle beskikbare weë te volg om regverdigheid te bevorder:
# Die DA in die Wes-Kaap sê sigbare wetstoepassing en pro-aktiewe ingryping by skole is nodig omdat dit toenemend die teikens word van opsetlike beskadiging en diefstal. Die provinsiale Onderwysdepartement het tydens verlede jaar se wintervakansie sekerheids-maatreëls by 424 skole ondersteun. Dis vanjaar uitgebrei na 453 hoërisiko-skole. Peter Johnson van die DA sê 11,9-miljoen-rand is in die huidgie boekjaar toegeken vir sekerheids-maatreëls tydens vakansies, al is misdaadvoorkoming eintlik die polisie se verantwoordelikheid:
# Libanon en Israel bespreek ‘n Amerikaans-gesteunde voorstel waarvolgens Israelse magte van die Libanese gebied wat tydens die oorlog met Hisbolla beset is, aan Libanon se Weermag sal oorhandig. Die voorgestelde projek vorm deel van die jongste ronde gesprekke tussen Israel en Libanon in Washington, hoewel dit oorskadu word deur Iran se besluit om Libanon die middelpunt te maak van sy samesprekings met Amerika. Israelse magte het ‘n deel van Suid-Libanon beset tydens die oorlog, wat ontketen is toe Hisbolla op Israel losgebrand het ter ondersteuning van Teheran.
# Rugby: Suid-Afrika se Wêreldbekerwenner-skrumskakel, Faf de Klerk, voer die Barbarians aan in Saterdag se wedstryd teen Wallis op Twickenham. Hy neem oor by die Nieu-Seelander TJ Perenara, terwyl die groep 19 toetsspelers uit elf lande insluit. De Klerk het ‘n drie gedruk toe hy van die bank opgedraf het in verlede naweek se kragmeting tussen die Bokke en die BaaBaas in Gqeberha. Hoofafrigter Scott Robertson sê dis wonderlik om ‘n speler van sy gehalte en ervaring te hê om die groep te lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-515-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-984-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….