Nuus 14:00
BULLETIN 23 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Misdaadintelligensie-hoofde dien ‘n klagte in oor ‘n voorval met die Direktoraat teen Korrupsie
# Die Kaapstadse hawe kry ‘n vierpunt-verbeteringsplan ná sy swak vertoning
# En rugby: Savea sien uit na die uitdaging om die All Blacks na die Wêreldbekertoernooi te lei
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en senior polisie-offisier Nozipho Madondo het formele klagtes ingedien by die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die Nasionale Vervolgingsgesag oor hoe ‘n optrede deur die Direktoraat teen Korrupsie hanteer is. Die twee beweer hulle het opdrag ontvang om met oornagsakke by die Brooklyn-polisiestasie in Tshwane aan te meld in afwagting van lasbriewe vir inhegtenisneming, wat nooit uitgevoer is nie. Die voorval het bewerings van intimidasie en politieke inmenging ontketen.
# Die polisie het sy taakspan vir politieke moorde ontplooi om ondersoek in te stel na die moord op vier politieke partylede tydens die kieser-registrasienaweek. Waarnemende kommissaris Puleng Dimpane sê die moorde was op ‘n DA-kandidaat in ‘n tussenverkiesing in Kaapstad, ‘n ANC-raadslid van die Oos-Kaap en twee MK-partylede van die Gautengse Wes-Rand. Sy sê al die slagoffers is aangeval toe hulle teruggekeer het van kieser-registrasienaweek-bedrywighede. Ondersoeke duur voort.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, het ‘n vierpunt-noodreaksieplan uiteengesit om doeltreffendheid op die Kaapstadse hawe te verbeter. Dit is aangewys as die swakste onder 400 wêreldhawens op die Wêreldbank se houerhawe-prestasie-aanwyser vir 2025. Die plan sluit maatreëls in om opeenhoping te bestuur en bedryfs-ontwrigtings te beperk. Meyer sê die hawe het nogtans ‘n verbetering van 33-persent in skeeps-omkeertye aangemeld, wat vroeë tekens van vordering aandui:
# Rugby: Die nuwe All Black-kaptein, Ardie Savea, sien daarna uit om die driemalige kampioen na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië te lei. Die nuwe afrigter, Dave Rennie, het hom aangestel in sy groep vir die Nasieskampioenskapstoetse. Savea neem oor by die beseerde Scott Barrett. 2023 se wêreldspeler van die jaar sê hy is gelukkig om wonderlike leiers en afrigters in die groep te hê. Nieu-Seeland speel op 4 Julie in Christchurch teen Frankryk, die elfde in Wellington teen Italië en ‘n week later in Auckland teen Ierland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-313-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-127-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vereniging van Staatsamptenare herdenk die Dag van Openbare Diens en gee erkenning aan staatsamptenare se bydrae tot ontwikkeling, demokrasie en ‘n doeltreffende regering. Claude Naicker van die vakbond verwelkom die onlangse wysigings aan die Wet op die Staatsdiens gemik op die versterking van bestuur, verantwoordbaarheid en doeltreffendheid. Hy voeg by die hervorming van die Staatsdiens moet nie onsekerheid skep vir werknemers en arbeidsregte verswak nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….