Nuus 14:00
BULLETIN 15 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie vra jongmense om te registreer en te stem om Suid-Afrika se toekoms te help bepaal
# MultiChoice verskerp sy stryd teen digitale roofkopiëring
# Brittanje verbied onder-16s op sosiale media
# Die Verkiesingskommissie herhaal sy oproep aan jong Suid-Afrikaners om te registreer en te stem in die komende plaaslike regeringsverkiesing. Die hoofbestuurder vir Burgerlike en Demokrasie-opvoeding, Moagisi Letlhaku, sê om te stem is ‘n belangrike mylpaal en ‘n kernverantwoordelikheid om demokrasie te versterk. Letlhaku sê die OVK brei burgerlike onderwysprogramme in skole, tersiêre instellings en op digitale platforms uit om waninligting te bekamp en deelname te bevorder. Sy vra die jeug om ‘n aktiewe rol te speel in die vorming van die land se toekoms.
# MultiChoice sê die bekamping van digitale roofkopiëring bly ‘n topprioriteit ondanks die maatskappy se oorname deur Groupe Canal Plus. Die teen-roof-operasies, wat saam met die kuberveiligheidsfirma, Irdeto en wetstoepassingsagentskappe uitgevoer is, het gelei tot verskeie arrestasies, skuldigbevindings en die sluiting van onwettige stromingsdienste. Die uitsaaier het onthul owerhede het meer as 800 roof-stromingsrekeninge gedeaktiveer. MultiChoice sê misdadige netwerke agter onwettige Internet Protocol Television-dienste bly hulle ontwyk deur name en platforms gedurig aan te pas. Ondersoekers hou hul aktiwiteite dop en teiken die verantwoordelike operateurs.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement herinner ouers vandag is die laaste dag om skoolplasings van Graad R-, 1- en 8-leerders vir die 2027-akademiese jaar te bevestig. Die woordvoerder Bronagh Hammond sê die toelatingstelsel sal leerders om middernag self plaas volgens hul hoogste beskikbare keuse indien aanbiedings nie bevestig word nie. Sy sê meer as 46-duisend leerders het in die eerste fase verskeie opsies ontvang:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het ‘n sosiale media-verbod aangekondig op onder-16s as deel van planne om hulle teen aanlyn skade te beskerm. Australië het in Desember die eerste land geword om so ‘n verbod in te stel. Starmer sê kinders sukkel om hulle voete te vind in ‘n wêreld waar tegnologie elke lewensfeer indring. Hy gee toe dit gaan nie maklik wees om sosiale mediareuse soos TikTok, Snapchat en Instagram teen te staan nie:
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Suid-Afrika aangespoor om Bafana Bafana tydens hul volgende Groep A-wedstryd hierdie week te ondersteun. Suid-Afrika pak die Tsjeggiese Republiek Donderdag om ses-namiddag Suid-Afrikaanse tyd in die Atlanta-stadion, met die laaste groepwedstryd teen Suid-Korea op 24 Junie in die Monterrey-stadion, Mexiko. McKenzie het aan Newzroom Afrika gesê die span is gefokus op die oorblywende wedstryde:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-715-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-338-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….