Nuus 13:00
BULLETIN 15 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika teiken toerismegroei uit Mexiko ná die Wêreldbeker
# Die G7-leiers vergader in Frankryk na Amerika en Iran verklaar het ‘n ooreenkoms is bereik om die oorlog te beëindig
# En, ‘n Verdagte is in die hof in verband met 150 lewendige skerpioene in sy bagasie by die Kaapstad-lughawe
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika sal voortgaan om sy toerisme-aanbiedinge in Mexiko te bevorder ná die 2026 FIFA Wêreldbeker. De Lille het in Mexiko die land as ‘n belangrike groeimark geïdentifiseer, met verwysing na ‘n bestendige toename in besoekers die afgelope drie jaar. De Lille sê haar eweknie het ooreengekom om samewerking te versterk, lugverbindings te verbeter en ‘n nuwe driejaar-toerisme-aksieplan tussen die twee lande in te stel:
# Die Ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake waarsku munisipaliteite en die publiek oor aanhoudende bedrieglike oproepe deur persone wat valslik beweer dat hulle adjunkminister Namane Dickson Masemola is. ‘n Woordvoerder Musa Mkaliphi sê die swendelaars probeer om inligting te bekom of besluite onder valse voorwendsels te beïnvloed. Sy vra die publiek om oproepers deur middel van amptelike kanale te verifieer en verdagte aktiwiteite aan te meld. Sy sê om ‘n openbare ampsdraer na te maak is ‘n ernstige oortreding:
# Leiers van die Groep van Sewe-lande, die grootste, gevorderde ekonomieë, sal binnekort by die Franse oord Evian‑les‑Bains vergader, nadat Amerika en Iran aangekondig het ‘n voorlopige ooreenkoms om die oorlog te beëindig, is bereik. Die vergadering sal fokus op die volgende stappe oor Iran, asook pogings om gemeenskaplike standpunte te vind oor die oorlog in Oekraïne, hoe om wêreldwye ekonomiese ongelykhede aan te pak en die verkryging van kritieke minerale buite China. Die Amerikaanse president Donald Trump sal na verwagting met Midde‑Oosterse leiers vergader en ‘n werksvergadering met die Oekraïense president, Volodimir Zelenski, bywoon.
# Sokker: Die bekroonde Somaliese skeidsregter Omar Artan sal sy volle Wêreldbeker-fooi ontvang ten spyte daarvan dat hy toegang tot die Verenigde State geweier is. Artan is elf ure lank deur immigrasiebeamptes in Miami ondervra voordat hy toegang geweier en na Somalië teruggestuur is. Volgens Amerikaanse owerhede was daar kommer oor sy keuring en ander inligting. Die 34-jarige skeidsregter is sedertdien aangestel as skeidsregter by die UEFA Superbeker en sê hy bly vasbeslote om by die 2030 Wêreldbeker in Marokko, Spanje en Portugal te werk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-655-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-25-sent per vat.
# En laastens, ‘n 28-jarige man sal na verwagting vandag in die Bellville-landdroshof verskyn nadat hy met 150 lewende, giftige skerpioene versteek in sy bagasie, by Kaapstad Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is. Die polisie sê die verdagte is onderskep na intelligensie-geleide operasies deur die Kuilsrivier Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid, in samewerking met CapeNature. Die skerpioene, wat tussen klere versteek was, is ontdek en later by ‘n aanhoudingsfasiliteit beveilig. Die man staan tereg op aanklagte kragtens omgewingsbewaringswette wat verband hou met die besit van beskermde wildspesies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….