Nuus 14:00
BULLETIN 8 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid bevestig die suksesvolle repatriasie van 663 Ghanese burgers
# Iran sê Amerika is regstreeks verantwoordelik vir Israel se skietstilstand-skendings
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter sê dis besonders om die Wêreldreeks én die Wêreldkampioenskap te wen
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, het bevestig 663 Ghanese burgers is die naweek vanaf die OR Tambo Internasionale Lughawe na hulle land teruggeneem. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê die proses, wat saam met die Hawebestuurskomitee en die Ghanese hoëkommisariaat gereël is, het identiteitsbeheer, klaring en gehuurde vlugte ingesluit. Sy voeg by baie van die reisigers het hul visums oorskry en is ingevolge die Immigrasiewet onwettig verklaar:
# Die regering is bekommerd oor die onlangse opmerkings deur die ontleder Charles Sinkala. Hy het tydens ‘n onderhoud met SABC bespiegel Artikel 89 van die Grondwet het bygedra tot die agteruitgang van staatsondernemings. Woordvoerder William Baloyi sê die artikel maak spesifiek voorsiening vir die verwydering van die president deur die Nasionale Vergadering onder bepaalde omstandighede, en hou nie verband met die bestuur, administrasie of bestuur van staatsondernemings nie:
# Die polisie vra gemeenskappe om die stilte rondom statutêre verkragting en kindermishandeling te verbreek. Woordvoerder Amanda van Wyk beklemtoon die behoefte aan oop besprekings, vroeë aanmelding en gemeenskapsbetrokkenheid. Sy waarsku baie gevalle word steeds nie aangemeld nie weens kulturele oortuigings of vrees. Van Wyk moedig kinders aan om en hulp te soek, en spoor gemeenskappe aan om slagoffers te ondersteun en toe te sien dat oortreders aanspreeklik gehou word.
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake sê Amerika is regstreeks verantwoordelik vir die huidige skietstilstand-skendings, aangesien Israel se optrede nie geskei kan word van Amerikaanse beleide nie. Israel en Iran val mekaar sedert die naweek aan, die eerste keer dat hulle mekaar se grondgebied teiken sedert die skietstilstand twee maande gelede in werking getree het. Woordvoerder Esmaeil Baghaei sê voorvalle die afgelope 24-uur sal die reeds gespanne diplomatieke proses met Amerika verder ontwrig.
# Rugby: Die Springbok-Sewes se afrigter, Philip Snyman, is uiters trots op sy span en hoe hulle dié seisoen deurgaans presteer het. Die Blitsbokke het hulle Sewes-wêreldreeks-sege opgevolg deur hulle Wêreldkampioenskapstitel suksesvol te verdedig. Tristan Leyds het die toekenning as die Mans-sewes-speler van die jaar verower terwyl hy en sy spanmaat, Shilton van Wyk, ook in die seisoen se droomspan aangewys is. Snyman sê die span beweeg in die regte rigting:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-82-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-293-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….