Nuus 14:00
BULLETIN 21 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tien mense sterf in ‘n botsing in Mpumalanga
# Fannie Nkosi se saak is tot Julie uitgestel vir die saamvoeging van sake
# En rugby: Ethan Hooker verbind hom tot die Haaie tot 2029
# Tien mense is vanoggend dood in ‘n botsing tussen ‘n minibus-taxi en ‘n bus op die R39 tussen Standerton en Morgenzon in Mpumalanga. Die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid sê nege slagoffers, insluitend die taxibestuurder, is op die toneel dood en ‘n ander persoon het in die hospitaal gesterf. Vier mense is ernstig beseer en na Standerton se hospitaal geneem. Owerhede sê die oorsaak word nog ondersoek, maar roekelose en nalatige bestuur is nie uitgesluit nie.
# Die Landdroshof in Pretoria-Noord het die saak teen die geskorste polisie-sersant Fannie Nkosi van die Eenheid vir Georganiseerde Misdaad tot 22 Julie uitgestel. Die staat beplan om alle sake saam te voeg, insluitend een in Thohoyandou rakende beweerde inmenging in ‘n dwelmondersoek. Nkosi bly in aanhouding nadat borgtog geweier is. Sy aansoek om appèl sal Dinsdag in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Nkosi staan tereg op aanklagte verbind aan vuurwapens, plofstof, ammunisie, polisiedossiere en kontant waarop beslag gelê is tydens ‘n klopjag.
# Die DA vra die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, om die administrateur van die Bou-opvoedings en Opleidingsraad, Oupa Nkoane, te ontslaan. Hy het self sy salarispakket van drie-miljoen-rand vasgestel en goedgekeur sonder die departement of die minister se goedkeuring. Karabo Khakhau van die DA sê ‘n administrateur van ‘n onderwys- en opleidingsinstelling moet ‘n eerlike amptenaar wees wat vry is van enige beskuldigings of moontlikhede van korrupsie:
# Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomitee het planne goedgekeur dat ‘n munisipale parkeerterrein by die Burgersentrum in die middestad vir bekostigbare behuising en gemengde gebruik ontwikkel word. Die terrein word tans gebruik as opelug-parkeergebied vir personeel. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die terrein is strategies geleë in die Strandgebied en naby groot openbare vervoer-infrastruktuur:
# Rugby: Die veelsydige Springbok-agterspeler, Ethan Hooker, is tot 2029 verbind tot die Haaie. Die 23-jarige het in 2023 in Durban aangekom en die unie sedertdien verteenwoordig in altesaam 20 Verenigde Rugbykampioenskaps- en Curriebeker-wedstryde. Hy het verlede jaar die eerste van sy agt toetse vir Suid-Afrika gespeel. Hooker is tans op die kantlyn weens ‘n skouerbesering en sal die Nasieskampioenskaps-toetse teen Engeland, Skotland en Wallis misloop, maar behoort fiks te wees vir die All Blacks se toer in Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-21 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-260-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-517-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….