Nuus 14:00
BULLETIN 15 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee steun Ramaphosa te midde van oproepe vir sy bedanking
# AfriForum vra duidelikheid oor die diplomatieke status van die uitleweringspogings vir die Guptas
# En gholf: Garrick Higgo van Suid-Afrika herstel van twee strafhoue om 69 te behaal in die Amerikaanse PGA
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die nasionale uitvoerende komitee het nie gister president Cyril Ramaphosa se herroeping bespreek ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Phala Phala nie. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê Ramaphosa se bedanking was nooit op die sakelys nie. Mbalula herbevestig die ANC se volle steun aan Ramaphosa en sê hy is vir vyf jaar verkies en sy mandaat bly ongeskonde tot 2027:
# Die staatsbeheerde verdedigingsonderneming Denel het planne aan die Parlement uiteengesit om sy bedrywighede te herstel en te laat groei. Die groep sê sy strategie fokus op die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die verbetering van finansiële volhoubaarheid en die uitbreiding van internasionale vennootskappe. Denel wil die volgende vyf jaar sy omset met vyf-miljard-rand verhoog en sy beeld as ‘n betroubare verskaffer herbou. Denel beplan ook om sy produk-aanbod te verbreed, na nuwe markte uit te brei en bestuur, bedryfsdoeltreffendheid en nakoming te versterk.
# AfriForum sê die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, moet duidelikheid verskaf rondom die huidige status van pogings om die Gupta-broers uit die Verenigde Arabiese Emirate te laat uitlewer. Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het verlede jaar verklaar hy sal ‘n nuwe aansoek indien vir die uitlewering van Rajesh en Atul Gupta, wat verdink word van betrokkenheid by staatskaping. Jacques Broodryk van AfriForum sê Mothibi moet aandui wat die uitleweringsproses belemmer:
# Gholf: Garrick Higgo van Suid-Afrika het herstel van twee strafhoue om een onder baansyfer-69 aan te teken in die eerste ronde van die Amerikaanse PGA-kampioenskap. Hy is gestraf omdat hy sekondes laat vir sy afslaan opgedaag het vanaf die oefenveld. Hy is steeds slegs twee houe agter die groep van sewe voorlopers, onder wie sy landgenoot Aldrich Potgieter. Die 27-jarige Higgo het vier voëltjies aangeteken en hy sê hy is uiters trots, want hy was geestelik sterk in die manier waarop hy aanhou veg het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-33 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-505-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-552-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement waarsku teen die gebruik van onbeheerde en ongereguleerde vloeistof vir inspuitings om die liggaam en seksuele funksies te verbeter. Dit volg na twee gevalle in Ekurhuleni waar pasiënte ernstige komplikasies ondervind het, insluitend orgaanversaking, nadat hulle blykbaar ongereguleerde produkte deur informele kanale bekom het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê albei gevalle word tans ondersoek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….