Nuus 14:00
BULLETIN 10 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stel twee regters in die Konstitusionele Hof aan
# SASSA herstel sy selfhelpstelsel ná tegniese probleme
# En sokker: Italië se kaptein ontken bewerings dat hulle aangedring het op ‘n bonus vir hul kwalifikasie vir die Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa het regters Nambitha Dambuza-Mayosi en Katharine Savage in die Konstitusionele Hof aangestel met ingang een Mei. Die stap volg ná raadpleging met hoofregter Mandisa Maya en politieke leiers. Dit volg ook nadat Judges Matter bekommerd was oor ‘n vertraging van vyf maande na afloop van verlede jaar se onderhoude. Ramaphosa sê Dambuza-Mayosi en Savage beskik oor dekades se regservaring en toewyding aan grondwetlike waardes, met Suid-Afrika wat 30-jaar van demokrasie vier.
# Die Tshwane-metropolisie se adjunkhoof, Umashi Dlamini, sê hy het geweier om die geskorste sersant van Gauteng se Georganiseerde Misdaadeenheid, Fannie Nkosi, by te staan met tenderaansoeke vir sy broer weens ‘n belangebotsing. Hy het voor die Madlanga-kommissie bevestig daar was ‘n langdurige verhouding met Nkosi, maar ontken besprekings rondom stadsverwante sake. Dlamini ontken ook enige ontmoetings met Nkosi en ‘n goeie vriend van die vermoorde musikant DJ Sumbody, Mpho Lekukela:
# Die Maatskaplike Sekerheidsagentskap, SASSA, sê sy selfhelpstelsel is weer aanlyn nadat tegniese probleme toegang tot e-dienste ontwrig het. Die agentskap het begunstigdes wat deur vertragings geraak is om verskoning gevra, nadat dit lang toue in kantore veroorsaak het. SASSA het gebruikers aangespoor om die digitale platform te gebruik om reiskoste en opeenhoping te vermy. Die stelsel maak veilige biometriese bevestiging moontlik en verseker voldoening aan toelaagvereistes. Begunstigdes word herinner om lewensertifisering betyds te voltooi om betalingsvertragings of opskorting te vermy.
# Sokker: Italië se kaptein, Gianluigi Donnarumma, ontken bewerings dat hulle ‘n bonus geëis het as hulle vir die Wêreldbekertoernooi kwalifiseer. Die viermalige kampioen sal die toernooi die derde agtereenvolgende keer misloop nadat hy nie gekwalifiseer het nie. Die doelwagter sê hy het nooit die beheerliggaam vir ‘n enkele euro gevra nie, maar die spelers ontvang altyd geskenke wanneer hulle vir ‘n toernooi kwalifiseer. Italië se onvermoë om te kwalifiseer het gelei tot die vertrek van hoofafrigter Gennaro Gattuso, afvaardigingshoof Gianluigi Gattuso, en die president van die beheerliggaam, Gabriele Gravina.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-764-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-758-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het vyf produksies aangewys as ontvangers van die 2025/26-Rolprentfonds. Dis twee reekse – Spinners en Animal Therapy -, twee dokumentêre prente, Omdraai en Aquanauts – en die vollengte fliek Silas en die Ysbeer op Tafelberg. Die burgemeesterskomiteelid vir Veilligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die fonds is gestig om gevestigde rolprentmakers in die metro te bemagtig deur inhoud te steun wat ‘n platform bied vir plaaslike stemme en uiteenlopende verhale:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….