Nuus 14:00
BULLETIN 13 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beroep vir ‘n oomblik van stilte om die tragedie in George te gedenk
# Die lewensmaat van wyle regter Yvonne Mokgoro word aangekla oor die botsing wat uiteindelik tot haar dood gelei het
# En, krieket: Ses spanne ding mee om die drie oorblywende plekke in die IPL-uitspeelrondes
# Dit is vandag ‘n week sedert die ineenstorting van ‘n gebou in George, die middag om nege minute oor twee. Die George-munisipaliteit vra in die lig hiervan inwoners van George en alle Suid-Afrikaners vir n oomblik van stilte op die spesifieke tyd en hulde te bring aan die slagoffers van die tragedie en hul gesinne wat hierdeur geraak word. Die dodetal staan nou op 26. Die munisipaliteit sê die gemeenskap is verenig in oordenking en solidariteit te midde van al die hartseer.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die lewensmaat van wyle regter Yvonne Mokgoro, David Melesi, aangekla is in verband met die motorbotsing in 2023 waarin sy beseer is. Die eerste swart vroulike regter in die Konstitusionele Hof het ernstige beserings opgedoen in die botsing naby Kimberley. Melesi word aangekla van roekelose en nalatige bestuur, wat aangepas kan word na strafbare manslag. Hy is op ‘n waarskuwing vrygelaat en moet op 30 Mei weer in die hof verskyn.
# Die DA in die Vrystaat verwelkom die spoedige inhegtenisneming van twee verdagtes vir die moord op die bejaarde Morrrison-egpaar aan die begin van die maand op die plaas Rietfontein naby Glen. Die DA-lid, Roy Jankielsohn, sê die party sal hierdie saak fyn dophou om te verseker die oortreders ervaar die volle mag van die gereg, anders as met talle ander misdade in Suid-Afrika:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom se prestasie het verbeter met ‘n merkbare toename in sy energie-beskikbaarheidsfaktor, wat 70-persent oorskrei. Ramokgopa het by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga die bykomende megawatt tot die netwerk die krediet gegee vir die verbetering. Hy lig Kusile se indrukwekkende energie-beskikbaarsheidsfaktor van 93-persent uit, en sê die verlaagde swael-uitlatings is veral belangrik omdat dit ‘n nuwe steenkoolaangedrewe kragstasie is:
# Krieket: Ses spanne het steeds ‘n realistiese kans om die uitspeelrondes van die Indiese Premierliga te bereik. Net Kolkata Knight Riders het reeds kwalifiseer en Mumbai Indians sal nie die groepstryd oorleef nie. Royal Challengers Bengaluru het danksy vyf agtereenvolgende oorwinnings opgeskiet na vyfde plek op die punteleer. Die ander spanne wat meeding om die oorblywende drie plekke in die uitspeelrondes is Chennai Super Kings, Delhi Capitals, Rajasthan Royals, Sunrisers Hyderabad, Lucknow Super Giants en Gujarat Titans.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-792-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….