Nuus 14:00
BULLETIN 25 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema sê die geskorste hoof van Ekurhuleni se metropolisie moet voor die parlementêre ad hoc-komitee verskyn
# Krieket: Die Proteas stel Indië ‘n wenteiken van 549 om die toetsreeks te red
# En die Kaapse wynstreek vier sy ses plekke onder die wêreld se beste wingerde vir 2025
# Die EFF-leier Julius Malema verwerp die ANC se voorstel dat die geskorste hoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, ‘n geskrewe verklaring indien en nie voor die parlementêre ad hoc-komitee verskyn nie. Mkhwanazi is voor die Madlanga-kommissie beskuldig dat hy ʼn sogenaamde geheime eenheid bedryf het wat betrek word by ernstige misdade, wat moord insluit. Malema sê Mkhwanazi moet voor die kommissie verskyn en antwoorde verskaf:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê boere staal hulle vir ʼn seisoen met bogemiddelde reënval. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se weervooruitsigte vir die seisoen, word bogemiddelde reënval hierdie somer in die noordoostelike streke van die land verwag. Dele van Mpumalanga en Limpopo sal in hierdie tydperk minder reën as gewoonlik kry. TLU SA se woordvoerder, Bennie Van Zyl, sê solank boere genoeg reën op die regte tyd kry, sal hulle seisoen voorspoedig wees:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, se vredesplan benodig verbetering om dit aanvaarbaar te maak vir Oekraïne en Europa. Hy het aan RTL Radio gesê dele van die plan moet bespreek, onderhandel en verbeter word. Macron sê hulle wil vrede hê en nie gedwonge oorgawe nie. Amerika se 28-punt vredesvoorstel het talle mense in die Amerikaanse regering, Kiëf en Europa onkant gevang en opnuut kommer gewek dat die Trump-administrasie bereid is om Oekraïne te dwing om ‘n sterk pro-Russiese ooreenkoms te onderteken.
# Krieket: Suid-Afrika het Indië ‘n reuse-wenteiken van 549 gestel toe hulle hulle tweede beurt op 260 vir vyf gesluit het op die voorlaaste dag van die tweede toets in Guwahati. Die Proteas het 489 in hulle eerste beurt aangeteken en die gashere toe vir slegs 201 uitgeboul. Tristan Stubbs het 94 bygedra in die tweede beurt. Suid-Afrika het die eerste kragmeting gewen, hulle eerste toetsoorwinning op Indiese bodem sedert 2010, en is op koers na hulle eerste toetsreeksoorwinning in die land in 25-jaar. Indië se uitskei-telling was 27 vir twee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-951-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 62-dollar-53-sent per vat.
# En ter afsluiting: Kaapstad Toerisme en die plaaslike wynbedryf vier groot internasionale erkenning. Ses Kaapse wingerde het in vanjaar se gesogte toekennings plekke verwerf, met twee wingerde wat dit in die wêreld se top tien van die Wêreld se 50 Beste Wingerde van 2025 gehaal het. Briony Brookes van Kaapstad Toerisme sê die toekennings beklemtoon die gehalte en uitnemendheid van Suid-Afrika se wynsektor, met bedryfsleiers wat die prestasie prys as ‘n hupstoot vir toerisme en die plaaslike ekonomie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….