Nuus 14:00
BULLETIN 18 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Singapoer lê beslag op ‘n rekordgetal gesmokkelde renosterhorings vanuit Suid-Afrika
# Mogotsi beweer die KwaZulu-Natalse polisiehoof en die Zulu-koning het bande met die CIA
# En rugby: Vier Springbokke is benoem vir Wêreldrugby se 2025-toekennings
# Singapoer se Nasionale Parkeraad het bevestig daar is beslag gelê op ‘n rekordgetal van 35,7-kilogram gesmokkelde Suid-Afrikaanse renosterhorings ter waarde van ongeveer 15-miljoen-rand wat vir Laos bestem was. Die rekord- beslaglegging is ontdek in ‘n vrag wat as meubel-toebehore verklaar is en het ook ongeveer 150-kilogram ander diere-liggaamsdele bevat soos bene, tande en kloue. Ondersoeke het getoon die witrenosterhorings is afkomstig uit Suid-Afrika. Alle renosterspesies word beskerm deur die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies, wat beteken dit is onwettig om handel te dryf daarmee.
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brian Mogotsi, het aan die Madlanga-kommissie gesê die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en koning Misuzulu kaZwelithini is na bewering deur die Amerikaanse Sentrale Intelligensieagentskap gewerf. Mogotsi het erken die inligting is gegrond op hoorsê van ‘n bron, maar het daarop aangedring dat vermoedens in intelligensiewerk ondersoek moet word. Kommissie-lede het hom aangespoor om bewyse te gee en hy het toegegee geen verdere besonderhede steun die bewerings nie, behalwe opmerkings oor opleiding in Amerika en reise:
# Die leier van die Patriotic Alliance en minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê dit sou ‘n groot fout wees van die ANC om president Cyril Ramaphosa te verwyder. Dit volg op toenemende gerugte rondom sy moontlike bedanking ná hierdie naweek se G20-leiersberaad. McKenzie het op Facebook Live gesê inflasie wat op die laagste in jare is en verbeterde werkskepping in die derde kwartaal toon die regering van nasionale eenheid stuur die land in die regte rigting:
Nuus uit die buiteland:
# Die Palestynse minister van Buitelandse Sake, Varsen Aghabekian Shahin, sê die aanvaardiging van ‘n voorstel deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad is ‘n noodsaaklike eerste stap op ‘n lang pad na vrede. Dit onderskryf die Amerikaanse president, Donald Trump, se plan om die oorlog in Gaza te beëindig, magtig die ontplooiing van ‘n multinasionale veiligheidsmag in Gaza en bied ‘n internasionale beskermings-meganisme vir die gebied wat verwoes is deur die oorlog van twee jaar. Shahin het ander belangrike kwessies uitgellig, insluitend Palestynse selfbeskikking en uiteindelike onafhanklikheid.
# Rugby: Die Springbokke Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Ox Nché, sowel as die Fransman Louis Bielle-Biarrey, is benoem vir Wêreldrugby se mans-vyftiental-Speler van die Jaar-toekenning, wat Saterdag aangekondig sal word. Nog ‘n Springbok, Ethan Hooker, is benoem in die kategorie Mans-15-deurbraakspeler van die Jaar, saam met Fabian Holland van Nieu-Seeland, Henry Pollock van Engeland en die Australiër Joseph-Aukuso Suaalii. Wêreldrugby se voorsitter, Brett Robinson, sê die toekennings verteenwoordig ‘n viering van die beste wat die sport bied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-475-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-41-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….