Nuus 14:00
BULLETIN 6 November 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof verwerp die aansoek deur Mashatile se gewese lyfwagte om die aanrandingsklagte teen hulle te laat vaar
# Cell C beplan om op die JSE te noteer
# En krieket: Pant en Deep is terug in Indië se span vir die twee toetse teen Suid-Afrika
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het die aansoek van agt gewese lyfwagte van adjunk-president Paul Mashatile verwerp om 12 aanklagte teen hulle te laat vaar – insluitend aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die saak teen die lede van die BBP-beskermingseenheid volg op ‘n voorval in Julie 2023 toe ‘n video van die agt geneem is waar hulle twee soldate op die N1 naby Fourways in Johannesburg aangerand het. Die Nasionale Vervolgingsgesag het hul aansoek om ontslag teengestaan. Die saak is tot Maart uitgestel.
# President Cyril Ramaphosa het die viering van vroue se leierskap aangemoedig as die sleutel tot bemagtiging, gelykheid en maatskaplike vordering. Hy het gepraat op die Internasionale Vroueforum se konferensie in Kaapstad. Ramaphosa sê die geleentheid erken gedeelde menslikheid en inter-afhanklikheid. Hy het vroue geloof dat hulle samewerking en empatie voorstaan te midde van globale verandering. Ramaphosa beklemtoon hulle werk kom ooreen met Suid-Afrika se G20-doelwitte van solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid om ‘n beter wêreld te vorm:
# Suid-Afrika se derde grootste selfoonoperateur, Cell C, beplan om op die Johannesburgse Aandelebeurs te noteer. Dit word beskryf as ‘n strategiese stap wat daarp gemik is om sy balansstaat te stroomlyn, sy handelsmerkteenwoordigheid te verbeter en sy volgende groeifase te ondersteun. As deel van die notering sal ‘n volfiliaal van Cell C se grootste aandeelhouer, Blu Label Unlimited Group, The Prepaid Company, bestaande aandele deur ‘n private plasing aan kwalifiserende beleggers aanbied. TPC beoog om ongeveer 7,7-miljard-rand in te samel om die maatskappy se uitbreidingsplanne te versterk.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig hy het ‘n oorgawebevel van die Eswatini-regering ontvang vir Siyabonga Gezani en Malusi Dave Ndimande. Dit volg nadat hulle Maandag hul uitleweringsappèl laat vaar het. Die broers word vir ʼn reeks misdade in Suid-Afrika gesoek, onder meer die moord op die musikant, Kiernan “AKA” Forbes, en sy vriend Tebello “Tibz” Motsoane. Die nasionale polisiewoordvoerer, Athlenda Mathe, sê hulle finaliseer logistieke reëlings sodat die uitlewering komende Dinsdag kan plaasvind:
# Krieket: Die paaltjiewagter en kolwer Rishabh Pant is ingesluit in Indië se toetsspan vir die reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika wat volgende Vrydag in Kolkata begin. Die 28-jarige Pant, wat verlede maand die reeks teen die Wes-Indiese Eilande weens ʼn voetbesering misgeloop het, is die onderkaptein. Akash Deep is ook terug nadat hy van ʼn rugbesering herstel het. Die snelbouler Mohammed Shami is weer uitgelaat nadat hy weens kommer oor sy fiksheid nie vroeër vanjaar ingesluit is vir die reekse teen Australië en Engeland nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36 sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 22-rand-73 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-99 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-ses dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-85-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….