Nuus 14:00
BULLETIN 22 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verbruikersinflasie styg effens tot 3,4-persent in September
# Die Activists and Citizens Forum sê president Ramaphosa moet die Valke ontbind
# En krieket: Die Proteas se boulers besorg hulle ‘n eerstebeurt-voorsprong van 71-lopies oor Pakistan
# Statistieke Suid-Afrika sê die jaarlikse verbruikersinflasie het in September effens gestyg tot 3,4-persent teenoor 3,3-persent in Augustus. Die toename is hoofsaaklik die gevolg van hoër pryse vir vervoer, restaurante en verblyf, terwyl inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies effens gedaal het. Vleispryse het tot hul hoogste vlak sedert 2018 gestyg, met bees-stowevleis wat op ‘n jaargrondslag met 32-persent gestyg het. Ricado Johnson van Statistieke SA sê melk en eiers is egter goedkoper, met eierpryse wat met meer as agt-persent gedaal het:
# Die burgerlike beweging, Activists and Citizens Forum, vra president Cyril Ramaphosa om die Valke onmiddellik te ontbind. ‘n Polisie-informant, slegs bekend as Getuie A, het aan die Madlanga-kommissie vertel hoe lede van die Valke by sy span probeer inmeng het tydens ʼn grootskaalse ondersoek by die woning van die vermeende misdaadhoof, Katiso “KT” Molefe, in Sandhurst, Johannesburg. Dennis Bloem van die forum sê dis duidelik dat sommige lede van die Valke deur misdaadsindikate gekaap is:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap veroordeel die haatspraak, persoonlike aanvalle en lasterlike kommentaar op sosiale media teen die Dullah Omar-instituut en die navorser, Jean Redpath, na aanleiding van haar bydraes tot nasionale debatte oor wetstoepassing en verantwoordbaarheid. Die rektor en visekanselier, Robert Balfour, sê die universiteit bevestig akademiese vryheid en ondersteun Redpath se reg om bewysgegronde sienings te deel terwyl rassisme, vrouehaat en dreigemente verwerp word. Hy vra verantwoordelike gematigdheid op sosiale platforms.
# Die beweging Suid-Afrikaanse Vriende van Israel sê ná jare van diplomatieke flaters en ideologiese verleentheid het die ANC bewys hy kan nie vertrou word om die land internasionaal te verteenwoordig nie. Hy eis dat die ANC die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se beheer aan ʼn regering van nasionale eenheid oorhandig. Bafana Modise van die beweging sê ʼn nuwe minister van Buitelandse Sake sal aan landsburgers en vennote wêreldwyd wys Suid-Afrika is ernstig oor die herbou van sy integriteit, beleggingswaarde en globale verhoudings.
# Krieket: Die boulers het Suid-Afrika gered met ‘n reuse-169 lopies om die laaste drie paaltjies op die derde dag van die laaste toets teen Pakistan in Rawalpindi. Die Proteas het op 185 vir vier hervat, ‘n eerstebeurt-agterstand van 148, en vinnig vier kolwers verloor. Senuran Muthusamy en Keshav Maharaj het ‘n negende-paaltjie-vennootskap van 71 lopies aangeteken voor Maharaj uitgehaal is. Muthusamy en Kagiso Rabada se tiendepaaltjie-vennootskap het 98 lopies opgelewer, met Rabada wat sy eerste toets-vyftigtal aangeteken het. Die Proteas het op 404 geëindig – ‘n voorsprong van 71 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-6-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-74-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….