Goeie Nuus
BULLETIN 22 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Grootvadersbosch-bewaringsgebied naby Heidelberg in die Wes-Kaap het op die 2025 Reverse the Red Accelerator-toekennings in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate, internasionale erkenning gekry vir hul pogings om die bedreigde Tradouw-rooivlerkie te red. Die klein varswatervissie, wat slegs in die Huisrivier voorkom, word bedreig deur indringerspesies en droogte. Die bewaringsprojek het rivieroewers herstel, plaaslike werksgeleenthede geskep en gemeenskapsbewustheid verhoog. Die toekenning bied befondsing en wêreldwye ondersteuning vir verdere bewaring, insluitend planne om veilige nuwe omgewings vir die Tradouw-rooivlerkie te vestig.
# ‘n Eerstejaarstudent in Omgewingsgesondheid aan die Tshwane-universiteit vir Tegnologie, Lennox Mulugo, het ʼn digitale uitgewersplatform ontwerp om jong Afrika-skrywers te ondersteun. Enigmatic Docs bied aan skrywers, digters en opvoeders dienste soos redigering, formatering, International Standard Book Number-registrasie, spookskrywers, proefleesdienste en omslagontwerp. TUT sê Mulugo se werk weerspieël die instelling se visie om gegradueerdes die toekoms in te stuur met die vermoë om hul onderrig te gebruik om die wêreld te beïnvloed.
# Die opkomende jong Suid-Afrikaanse akteur, Kumkani Pilonti, sê die ondersteuning wat hy van sy gesin en skool, die Hoër Tegniese Skool Klerksdorp, ontvang het, was vir hom deurslaggewend om sy doelwitte te bereik. Die 17-jarige Pilonti se vroeë ervaring in skoolopvoerings het die weg gebaan vir sy akteursloopbaan waar hy later sy talent vertoon het in die Emmy-benoemde reeks van 2021, Reyka. Hy het ook erkenning gekry in die Duitse fliek Thabo and The Rhino Case van 2023. Kuimkani sê hy is ʼn inspirasie vir kinders, wat hom vervul en beloon.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap sê hy straal van trots nadat twee van sy studente, Sisonke Mfeketho en Diteboho Shabalala, die eerste plek behaal het in die Johannesburgse Aandelebeurs se gesogte Universiteite-beleggingsuitdaging. Universiteitspanne word uitgenooi om aan die hoogs-mededingende uitdaging deel te neem en die opwinding van die finansiële markte te ervaar deur werklike aandelehandel na te boots. Altesaam sewe-duisend-700 studente van 110 kolleges en universiteite het deelgeneem. UWK sê Mfeketho en Shabalala het bewys dat briljantheid, durf en ‘n honger na leer ryklik beloon word.
# En tien musikante is bygevoeg op die lys kunstenaars vir die 26ste Latynse Grammys wat op 13 November in die MGM Grand Garden Arena in Las Vegas plaasvind. Dit sluit in Rauw Alejandro, Kacey Musgraves, Carlos Santana en Elena Rose. Hierdie sterbelaaide groep sluit aan by die kunstenaars wat reeds aangekondig is, soos die Latynse pop-ikoon Gloria Estefan, die Colombiaanse rock-groep Morat, en Carín León en Pepe Aguilar van Mexiko. Bad Bunny loop voor met 12 benoemings, en die Argentynse duo, Ca7riel en Paco, is op sy hakke met tien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….