Nuus 14:00
BULLETIN 14 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie X ontbloot beweerde korrupsie en geheime polisie-sakebande voor die Madlanga-kommissie
# Griekse werkers staak oor ‘n voorgestelde werksdag van 13-uur
# En sokker: Ancelotti wil Brasilië help om die Wêreldbeker te wen
# Getuie X het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria beweerde korrupsie en geheime bande tussen senior polisiebeamptes en sakefigure onthul. Getuie X het aanlyn getuig en omvattende WhatsApp-boodskappe verskaf wat op noue bande dui tussen die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en die KwaZulu-Natalse hoof van die Valke, generaal Lesetja Senona, sowel as sy seun, Thato Senona. Die tussenganger, advokaat Thabang Pooe, het die getuie se antwoorde oorgedra en sê die gesprekke ontbloot ‘n voordelige verhouding wat vertroulike inligting, beskerming en eiendoms-transaksies behels:
Lede van die parlementêre ad hoc-komitee het intussen die geskorste nasionale adjunkkommissaris van polisie, Shadrack Sibiya, in-diepte ondervra oor sy verhouding met Matlala. Sibiya het sy optrede verdedig en gesê dit was logies dat Matlala die nasionale kommissaris sou nader nadat hy ‘n polisietender bekom het. Hy het ook informele kontak met die aktivis Brown Mogotsi bevestig. Sibiya sê egter dit was hoofsaaklik werkverwant en dat hy ongewone kontakte aan die nasionale kommissaris uitgewys het:
# Drie vermeende polisiemoordenaars is gisteraand in Johannesburg in hegtenis geneem vir moord, poging tot moord en gewapende roof. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê het adjudant-offisier Jabulani Mabuza se meisie het verlede maand voertuigprobleme ondervind op die Benrose-wes-oprit. Sy sê die klaer het toe vir Mabuza gebel om haar te help en net toe die sleepwa opdaag om die voertuig te sleep, is hulle oorval deur onbekende gewapende verdagtes:
Nuus uit die buiteland:
# Vervoer en dienste in Griekeland word die tweede keer hierdie maand ontwrig nadat vakbonde ‘n 24-uur-staking uitgeroep het teen die regering se plan vir ‘n opsionele werksdag van 13-uur. Die regering sê die lang werksdag, wat waarskynlik môre as wet aanvaar gaan word, is nie verpligtend nie, maar opposisiepartye en vakbonde voer aan dat werkers die gevaar van afleggings loop as hulle weier. Die staking sal openbare en munisipale dienste onderbreek en veerbote en treine lamlê. Vlugte word nie geraak nie. Betogings word beplan vir Athene en ander stede.
# Sokker: Geen land het al ooit die Wêreldbeker met ‘n buitelands-gebore afrigter gewen nie, maar die Italianer Carlo Ancelotti sê daar is altyd ‘n eerste keer terwyl hy glorie met Brasilië nastreef. Hy is die land se eerste oorsese afrigter in ses dekades nadat hy in Mei oorgeneem en die vyfmalige wêreldkampioen gehelp het om hul kaartjie vir volgende jaar se toernooi in Noord-Amerika te bespreek. Brasilië speel vandag in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Japan in Tokio, nadat hulle Suid-Korea verlede week in Seoel 5-0 afgeransel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….